Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 9:13-26 Die Boodskap (DB)

13. Nes julle die dorp ingaan, sal julle hom kry voor hy na die offerplek toe opgaan om saam met die mense die offervleis te eet. Die mense eet nie voor hy kom nie, want hy moet die offer seën. Eers dan eet die gaste. As julle nou dadelik gaan, sal julle hom kry.”

14. Hulle gaan toe na die dorp toe, en net toe hulle op die dorpsplein kom, loop hulle vir Samuel, wat op pad is na die offerplek toe, raak.

15. Die vorige dag al het die Here dit vir Samuel in die oor gefluister:

16. “Môre, omtrent hierdie tyd, sal Ek ’n man na jou stuur uit die stamgebied van Benjamin. Salf hom as ’n leier vir my volk Israel. Hy sal my volk vrymaak van die mag van die Filistyne. Hulle het My gesmeek om hulle te help en Ek weet goed in watter moeilikheid hulle is.”

17. Toe Samuel Saul sien, sê die Here vir hom: “Die man van wie Ek gesê het, ‘hy sal my volk regeer,’ dis hý daardie.”

18. Daar op die dorpsplein vra Saul toe vir Samuel: “Kan u my dalk sê waar die siener tuis is?”

19. “Ek is die siener,” antwoord Samuel. “Kom saam met my op na die offerplek en eet vandag saam met my. Ek sal jou môreoggend afsien, dan sal ek jou ’n geheim vertel.

20. Oor die donkies wat drie dae gelede weggeraak het, hoef jy jou nie te bekommer nie, hulle is gekry. Maar wie is die belangrikste in Israel? Is dit nie jy en jou hele familie nie?”

21. “Waarom sê u so iets vir my?” vra Saul. “Ek is maar net iemand van die Benjaminstam, die kleinste van die stamme van Israel, en my familie is die onbelangrikste van al die families van Benjamin.”

22. Samuel vat toe vir Saul en sy werker saam na die saal toe en gee vir hulle die belangrikste plek tussen die sowat 30 gaste.

23. Daarop sê Samuel vir die kok: “Bring vir my dié deel van die offervleis wat ek vir jou gegee het en gevra het om eenkant te hou.”

24. Die kok bring toe die skenkel en sit dit voor Saul neer. “Dit het oorgebly,” sê Samuel. “Eet gerus, want dit is toe ek die mense genooi het, al spesiaal vir jou gebêre.”Saul het daardie dag saam met Samuel geëet.

25. Toe hulle van die offerplek af teruggegaan het dorp toe, het Samuel met Saul op die dakstoep van die huis gepraat.

26. Die volgende môre was Saul en sy werker teen dagbreek al op. Samuel roep toe na Saul op die dakstoep: “Maak klaar! Ek wil jou afsien.” Saul het klaargemaak en hy en Samuel het saam buitetoe gegaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 9