Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 26:14-24 Die Boodskap (DB)

14. Toe roep hy na die manskappe en na Abner, Ner se seun: “Abner! Antwoord jy dan nie ’n mens nie?”Abner skree toe terug: “Wie’s jy wat so vir die koning staan en skree?”

15. Dawid antwoord hom: “Jy’s mos die beste man in die hele Israel? Hoekom het jy dan nie jou leier, die koning, opgepas nie? Daar het ’n manskap in die kamp ingekom om jou leier, die koning, dood te maak!

16. Jy maak nie mooi nie, Abner! Julle almal verdien die dood oor julle nie julle leier, die Here se gesalfde, oppas nie! Kyk ’n bietjie waar is die spies van die koning en sy waterkruik wat by sy kop was!”

17. Saul het Dawid se stem herken en gevra: “Is dit jóú stem wat ek hoor, Dawid, my kind?”Dawid het geantwoord: “Ja, U Majesteit, dis mý stem!”

18. Verder sê hy: “U Majesteit, waarom vervolg u my? Wat het ek verkeerd gedoen en waaraan is ek skuldig?

19. Luister tog asseblief na wat ek sê, U Majesteit: As dit die Here is wat u teen my opsteek, bring dan vir Hom ’n offer. Maar as dit mense is, is hulle vervloek voor die Here, want hulle het my nou weggejaag uit die land wat aan die Here behoort en waar ek mag woon. Hulle het as’t ware vir my gesê: ‘Gaan dien maar ander gode!’

20. Moet tog nie dat ek op vreemde grond, ver van die Here se altaar af doodgaan nie. Het die koning van Israel regtig ’n hele leër gevat om een enkele sandluis te soek, om een ou patrysie in die berge te kom jag?”

21. Saul het geantwoord: “Ek het ’n groot fout gemaak. Kom terug, Dawid, my kind. Ek sal jou nie weer probeer doodmaak nie, want mý lewe was vandag vir jou kosbaar. Ek was regtig dom en het ’n groot fout gemaak.”

22. Dawid sê toe vir hom: “Hier is u spies, U Majesteit. Laat een van die jong manne oorkom en dit kom haal.

23. Die Here is goed vir elke mens wat regverdig en getrou is. Hy het u vannag in my mag gegee en tog het ek nie my hand teen die Here se gesalfde opgelig nie.

24. Ek hoop regtig die Here sal net soveel waarde aan my lewe heg as wat ek vannag aan u lewe geheg het, en dat Hy my uit elke moeilikheid sal red.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 26