Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:31-40 Die Boodskap (DB)

31. sal hierdie ding van Nabal nie in u pad wees nie, en sal u gewete u nie pla dat u eie reg gebruik en mense onskuldig doodgemaak het nie. En as die Here vir u al die mooi dinge waar gemaak het, dink tog dan aan hierdie nederige vrou.”

32. Daarop sê Dawid vir Abigajil: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word dat Hy jou vandag na my toe gestuur het!

33. Jy is ’n baie slim vrou! Dankie dat jy vandag gekeer het dat ek eie reg gebruik en ’n bloedbad veroorsaak.

34. Ek sê vir jou, so waar as die Here, die God van Israel leef: Hy het gekeer dat ek jou baie seer maak, want as jy nie so gou gemaak en my op die pad gekry het nie, sou nie een van die mans of seuns by Nabal môre die son sien opkom het nie.”

35. Dawid het die goed wat sy vir hom gebring het, aanvaar en gesê: “Jy kan maar huis toe gaan sonder om bekommerd te wees. Kyk, ek het gehoor wat jy vra, en ek sal dit vir jou doen.”

36. Toe Abigajil by die huis kom, sien sy dat Nabal besig is met ’n verskriklike drinkparty. Hy was vrolik, maar smoordronk. Sy het toe maar nie ’n woord gesê voor die volgende môre nie.

37. Die volgende môre, na hy sy roes afgeslaap het, het sy hom vertel wat gebeur het. Hy het ’n aanval gekry en was in ’n koma.

38. Omtrent tien dae later het die Here hom weer ’n aanval laat kry en is hy dood.

39. Toe Dawid hoor Nabal is dood, het hy gesê: “Die Here moet geprys word, want Hy het my saak teen Nabal behartig toe dié my verneder het. Die Here het my, sy dienaar, gekeer dat ek nie ’n lelike ding aanvang nie. Die Here het Nabal sy verdiende loon gegee.”Dawid het mense na Abigajil toe gestuur om te hoor of sy met hom sal trou.

40. Hulle het by haar in Karmel aangekom en vir haar gesê: “Dawid het ons na jou gestuur omdat hy met jou wil trou.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25