Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 19:8-17 Die Boodskap (DB)

8. Daar was weer oorlog met die Filistyne en Dawid het teen hulle gaan veg. Dié keer het Dawid hulle so erg aangeval dat hulle vir hom gevlug het.

9. ’n Slegte gees het Saul toe weer beetgepak. Hy het in die paleis gesit met ’n spies in sy hand terwyl Dawid vir hom op die lier speel.

10. Saul wou vir Dawid met die spies teen die muur vasgooi, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Dawid het weggehardloop en daardie nag van die paleis af padgegee.

11. Saul het mense na Dawid se huis gestuur om die huis dop te hou en Dawid die volgende môre dood te maak. Maar Mikal, sy vrou, het hom gewaarsku: “Sorg dat jy vannag wegkom, anders is jy môre dood.”

12. Sy het Dawid deur ’n venster laat afsak. Hy het gevlug en weggekom.

13. Mikal het die beeld van die huisgod gevat en dit op die bed gesit. Sy het ’n deken oor die beeld gegooi en ’n bokhaarkombersie om die beeld se kop gedraai.

14. Saul het mense gestuur om Dawid te vang, maar Mikal sê toe Dawid is siek.

15. Saul het die manne teruggestuur om seker te maak dat Dawid daar is. Hy het vir hulle gesê: “Bring hom met bed en al. Ek wil hom doodmaak.”

16. Toe hulle in sy kamer kom, kry hulle sowaar net die huisgod op die bed met die bokhaarkombersie om die ding se kop!

17. Saul het vir Mikal gesê: “Hoekom het jy my in die steek gelaat en my vyand gehelp om weg te kom?”Waarop Mikal toe antwoord: “Dis sy skuld. Hy het gesê ek moet hom help om weg te kom, anders maak hy my dood.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 19