Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 17:48-58 Die Boodskap (DB)

48. Toe die Filistyn hom gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig nader gehardloop om hóm aan te val.

49. Dawid steek sy hand in die sak, haal ’n klip uit en gooi met die slingervel. Die klip tref die Filistyn reg voor die kop en gaan in sy voorkop in sodat hy vooroor op die grond val.

50. Dawid het die Filistyn gewen met slingervel en klip. Dawid het hom raak gegooi en hom so doodgemaak. Net so, sonder ’n swaard het Dawid dit gedoen.

51. Dawid het gehardloop en by die Filistyn gaan staan, sy swaard uit die skede getrek en hom doodgemaak. Daarna het hy sy kop afgekap.Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle weggehardloop.

52. Die manne van Israel en Juda het opgespring en hulle strydkreet geskree. Hulle het die Filistyne gejaag tot by Gat en tot by die ingang van Ekron. Die lyke van die Filistyne het oral langs die pad gelê, van Saärajim af tot by Gat en Ekron.

53. Toe die Israeliete terugkom van dié woeste gejaag af, het hulle al die goed in die Filistyne se kamp gevat. (

54. Dawid het later die Filistyn se kop Jerusalem toe gevat, en die wapens het hy in sy huis gesit.)

55. Saul het gesien hoe Dawid teen die Filistyn gaan veg, waarop hy vir Abner, sy groot generaal, gevra het: “Wie se kind is dit, Abner?”“Ek weet sowaar nie, U Majesteit,” het hy geantwoord.

56. “Vind vir my uit wie se kind is die jong man,” het die koning gesê.

57. Toe Dawid terugkom by die kamp nadat hy die Filistyn doodgemaak het, het Abner hom na Saul toe gebring. Hy het die kop van die Filistyn nog by hom gehad.

58. Saul vra hom toe: “Wie se kind is jy, seun?” Dawid het geantwoord: “Ek is die kind van Isai, u onderdaan wat in Betlehem bly.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 17