Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 15:23-33 Die Boodskap (DB)

23. Om jou teen die Here te verset en jou eie kop te volg is net so erg as om na ’n waarsêer of afgodspriester te luister. Omdat jy die Here se woorde eenkant toe gestoot het, gaan die Here jou as koning eenkant toe stoot.

24. “Ek het gesondig,” sê Saul vir Samuel. “Ek was ongehoorsaam aan die Here en ek het nie gedoen wat jy gesê het ek moet doen nie. Maar ek was bang vir die mense en het na hulle geluister.

25. Vergewe asseblief wat ek verkeerd gedoen het en kom kniel saam met my voor die Here.”

26. “Nee, ek gaan nie saam met jou nie,” sê Samuel vir hom. “Omdat jy die woorde van die Here eenkant toe gestoot het, het die Here jou ook eenkant toe gestoot. Jy gaan nie meer die koning van Israel wees nie.”

27. Toe Samuel omdraai om weg te loop, gryp Saul hom aan sy mantel. Toe skeur die mantel.

28. Samuel sê: “Die Here het nou net jou koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit vir iemand anders gegee wat beter is as jy.

29. Die God van Israel, wat altyd daar is, sal nie lieg nie en Hy gaan ook nie sy plan verander nie, want Hy is nie ’n mens nie.”

30. “Ek het gesondig,” sê Saul toe weer. “Moet my asseblief nie voor die Israeliete en hulle leiers verneder nie: kom kniel saam met my voor die Here jou God.”

31. Samuel het saam met Saul gegaan en Saul het voor die Here gaan kniel.

32. Daarna sê Samuel: “Bring vir Agag, die koning van die Amalekiete, hier.”Agag het na hom toe gegaan. Hy was ewe vrolik en het gedink: “Ek hoef nie meer bang te wees hulle sal my doodmaak nie.”

33. Maar Samuel sê vir hom: “Jou swaard het ma’s en hulle kinders doodgemaak; net so gaan jou ma ook nou sonder ’n kind wees.” Toe het Samuel daar by die altaar in Gilgal Agag se kop afgekap.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 15