Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29:7-14 Die Boodskap (DB)

7. Hulle het 171 ton goud, 342 ton silwer, 616 ton brons en 3 427 ton yster gegee.

8. Dié wat edelstene by hulle gehad het, het dit aan Jegiël gegee vir die tempelskatte.

9. Dié volk was bly oor al die gawes, want hulle het dit vrywillig en met blydskap vir die Here gegee. Koning Dawid was ook baie bly.

10. Dawid het toe die Here in die teenwoordigheid van die hele vergadering geprys: “Ek loof U, Here, God van ons voorvader Israel, vir altyd en altyd.

11. O Here, die grootheid, krag, glans, roem en majesteit behoort aan U. Ja, alles in die hemel en op aarde is U s’n. Aan U, Here, behoort die leierskap; U is hoër as almal.

12. Van U af kom alle rykdom en eer. U regeer oor alles. U deel mag en krag uit vir wie U wil. U kan enigiemand groot en sterk maak.

13. En nou dank ons U en prys u glansryke Naam,

14. want wie is ek en wie is my volk dat ons so ryk is om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af. Ons gee maar net aan U wat U vir ons gegee het.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 29