Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29:22-30 Die Boodskap (DB)

22. Hulle het met baie groot vreugde geëet en gedrink en geweet dat die Here daar by hulle teenwoordig is.Hulle het toe vir Salomo, Dawid se seun, vir die tweede keer as nuwe koning gekroon. Hulle het hom gesalf as hulle leier en vir Sadok as priester.

23. Salomo het op die troon wat die Here vir Dawid gegee het, gaan sit en sy pa opgevolg. Dit het baie goed met hom gegaan en die hele Israel was getrou aan hom.

24. Al die familiehoofde, die leiers en Dawid se ander seuns het hulle steun vir Salomo gegee.

25. Die Here het Salomo as koning baie eer gegee en almal het na hom opgesien. Hy het hom meer welvarend gemaak as enige koning in Israel voor hom.

26. Dawid, Isai se seun, het oor die hele Israel regeer.

27. Hy het 40 jaar lank in Israel regeer: sewe jaar uit Hebron en daarna vir 33 jaar uit Jerusalem.

28. Hy was oud toe hy dood is, nadat hy ’n lang lewe, welvaart en eer beleef het. Toe het sy seun Salomo hom opgevolg.

29. Al die gebeure van Dawid se regeringstyd is opgeskryf in Die herinnerings van Samuel die siener, Die herinnerings van Natan die profeet en die Herinnerings van Gad die siener.

30. Hierdie geskrifte beskryf sy magtige dade toe hy koning was. Dit handel oor alles wat met hom en met Israel en met die koninkryke rondom hulle gebeur het.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 29