Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 21:15-28 Die Boodskap (DB)

15. Daarna het God ’n engel gestuur om Jerusalem ook te vernietig. Toe Hy die verwoesting sien, was die Here jammer daaroor en Hy het vir die engel gesê: “Hou op! Dit is nou genoeg.”Die engel het toe by die dorsvloer van Ornan, ’n Jebusiet, gestaan.

16. Dawid het opgekyk en die engel tussen die aarde en hemel gesien met ’n ontblote swaard wat hy oor Jerusalem uithou. Dawid en die leiers van die volk was baie hartseer en hulle wou dit vir die Here wys. Met rouklere aan het hulle met die gesig op die grond geval.

17. Dawid het toe vir God gesê: “Dit was ék wat beveel het dat die volk getel moes word. Dit was my fout en ek het die sonde gedoen. Wat het hierdie arme mense gedoen? Here my God, U kan my en my familie swaar straf, maar spaar tog u volk van die siekte-epidemie!”

18. Die engel van die Here het toe vir Gad beveel om vir Dawid te sê dat hy ’n altaar op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, moes gaan bou.

19. Dawid het dit dadelik gedoen.

20. Ornan en sy vier seuns was besig om koring te dors. Toe hy opkyk, het hy die engel gesien. Hy en sy seuns het dadelik gaan wegkruip.

21. Toe Ornan daarna vir Dawid na hom toe sien aankom, het hy voor Dawid neergebuig.

22. Dawid het toe vir Ornan gesê: “Verkoop asseblief die dorsvloer aan my teen sy volle prys. Ek wil ’n altaar hier bou sodat die siekte-epidemie kan ophou.”

23. Ornan wou egter niks van betaal weet nie. Hy het gesê: “Vat die grond vir u en doen wat nodig is. Ek gee dit vir u. Ek sal ook die osse gee as offerdiere en die dorsslee vir hout om vuur mee te maak en die koring as ’n voedseloffer. Dit is u s’n.”

24. Dawid het egter gesê: “Ek wil beslis vir alles betaal. Ek kan nie jou goed vir die Here offer en ’n brandoffer bring met iets wat my niks gekos het nie!”

25. Hy het die grond toe vir omtrent sewe kilogram goud van Ornan gekoop

26. en ’n altaar vir die Here op die dorsvloer gebou. Hy het brandoffers en vredesoffers vir die Here gebring. Toe Dawid tot die Here bid, het die Here met vuur uit die hemel geantwoord wat die offer op die altaar verbrand het.

27. Toe het die Here met die engel gepraat en hy het sy swaard gebêre.

28. Toe Dawid sien dat die Here sy gebede verhoor het, het hy offers op die dorsvloer gebring.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 21