Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 11:2-17 Die Boodskap (DB)

2. Vroeër, selfs toe Saul nog koning was, was dit tog maar jy wat Israel gelei het. Die Here jou God het vir jou gesê: ‘Jy moet my volk Israel oppas en hulle lei.’”

3. Al die leiers van Israel het toe by Dawid in Hebron bymekaargekom. Hy het daar, in die Here se teenwoordigheid, ’n ooreenkoms met hulle aangegaan. Hulle het hom toe as koning van Israel gesalf.Dit was net soos die Here deur Samuel gesê het dit sou wees.

4. Dawid en al die Israeliete het toe na Jerusalem, wat toe nog Jebus genoem is, gegaan. Die Jebusiete het destyds daar rond gewoon.

5. Hulle het vir Dawid gesê: “Jy sal nie in Jebus inkom nie!” Maar Dawid-hulle het die bergvesting Sion ingeneem, dit is nou die Stad van Dawid.

6. Dawid het vooraf gesê: “Ek maak die een wat eerste ’n Jebusiet doodmaak, die bevelvoerder van my leërs!” Joab, wat Seruja se seun was, het die aanval gelei en só die bevelvoerder van Dawid se leërs geword.

7. Dawid het toe in die bergvesting gaan bly. Dit is waarom hulle dit die Stad van Dawid noem.

8. Hy het die stad van die Millo af reg rondom opgebou, terwyl Joab die res van Jerusalem herbou het.

9. Dawid het al hoe sterker geword, want die Here, die Groot Bevelvoerder, was by hom.

10. Hier is iets meer oor die leiers van Dawid se dapper helde. Hulle het saam met die hele Israel besluit om Dawid Israel se koning te maak, volgens die Here se belofte.

11. Hier is ’n lys van Dawid se magtige manne.Jasobam, Gakmoni se seun, was die leier van die Drietal. Hy het eenkeer 300 man in een veldslag met sy spies doodgemaak.

12. Eleasar, Dodo se seun, wat uit Agoag kom, is volgende. Hy was ook een van die Drietal.

13. Hy was saam met Dawid by Pas-Dammim om teen die Filistyne te veg. Die geveg het in ’n garsland plaasgevind en die Israeliete het gevlug.

14. Eleasar-hulle het egter in die garsland stelling ingeneem en die Filistyne teruggedryf. Die Here het hulle gered en vir hulle ’n groot oorwinning gegee.

15. Op ’n keer was Dawid by die rots naby die Adullamgrot, terwyl die Filistyne in die Refaimvallei kamp opgeslaan het. Drie lede van die Dertigtal het na Dawid toe gegaan.

16. Dawid was toe in sy vesting en die Filistyne het Betlehem op daardie stadium beset.

17. Dawid het verlangend gesê: “Ek wens iemand wou nou vir my ’n bietjie water uit die put by Betlehem se poort gaan haal!”

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 11