Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:7-18 Die Boodskap (DB)

7. Die verbondsark, asook die houtpale waarmee dit gedra is, het net mooi onder die gerubs se uitgestrekte vlerke ingepas.

8. Die houtpale was egter ’n bietjie te lank en ’n stukkie het by die Allerheiligste uitgesteek. ’n Mens kon dit net sien as jy vlak voor die Allerheiligste gestaan het. Die pale is vandag nog daar.

9. Daar was niks in die verbondsark nie, behalwe die twee kliptafels wat Moses nog by Sinai in die ark gesit het. By Sinai het die Here met Israel na die uittog uit Egipte ’n ooreenkoms gesluit.

10. Toe die priesters uit die heiligdom gekom het, het ’n helder, wit wolk die huis van die Here gevul. Almal het die teenwoordigheid van die Here aangevoel.

11. Dit was so oorweldigend dat die priesters nie eens hulle werk kon doen nie.

12. Op daardie oomblik is Salomo so deur die Here se nabyheid aangegryp dat hy gesê het: “Here, U is by ons en tog is U ook ver. U is teenwoordig en tog woon U in die donkerte.

13. Here, hierdie wonderlike tempel het ek vir U gebou. Dit moet vir altyd u woonplek wees.”

14. Terwyl die mense nog in verwondering gestaan het, het Salomo na hulle toe gedraai en vir hulle gebid.

15. Hy het gesê: “Ons wil die Here, die God van Israel, loof, want Hy het sy belofte aan Dawid gehou.

16. Sedert die uittog uit Egipte het Hy nie vir Hom ’n stad gekies nie; ’n stad waarin die tempel gebou kon word en Hy aanbid kon word. Toe het Hy Dawid as koning aangestel.

17. My pa, Dawid, wou graag vir die Here ’n plek bou waar Hy aanbid kon word.

18. Die Here het hom egter gekeer om dit te doen.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8