Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 3:7-17 Die Boodskap (DB)

7. Here, U het my in die plek van my pa koning gemaak, maar ek weet nie altyd hoe om goed te regeer nie, want ek is nog jonk.

8. Ek moet oor ’n volk regeer wat U vir Uself gekies het, en daar is so baie van hulle dat ek hulle nie eens kan tel nie.

9. Daarom vra ek u wysheid om goed oor u mense te regeer. Gee vir my die insig om regverdig te wees en tussen goed en kwaad te kan onderskei. Hoe kan ek sonder u hulp hierdie groot volk van U regeer?”

10. Die Here was baie gelukkig met wat Salomo gevra het. Hy sê toe vir hom:

11. “Jy het nie ’n lang lewe of baie geld of die ondergang van jou vyande gevra nie, maar die wysheid om goed te regeer.

12. Ek sal alles vir jou gee. Ek sal jou trouens baie meer wysheid en insig gee as wat enigeen voor jou gehad het, of selfs na jou sal hê.

13. Boonop gee Ek jou ook alles wat jy nie gevra het nie. Jy sal baie ryk wees en die mense sal jou eer. Geen ander koning sal so ryk en so geëerd wees soos jy nie.

14. As jy soos jou pa na My luister en my wil doen, sal Ek jou ook baie lank laat leef.”

15. Salomo het wakker geword en besef die Here het in ’n droom met hom gepraat. Hy is reguit Jerusalem toe en het daar voor die ark van die ooreenkoms aanmekaar geoffer. Hy was so bly en gelukkig dat hy uit dankbaarheid talle offers vir die Here gebring het. Toe hy daarmee klaar was, het hy ’n groot fees vir al sy amptenare gehou.

16. Op ’n dag het twee prostitute na Salomo toe gekom en hulle probleem aan hom vertel.

17. Eers het die een prostituut haar kant van die saak gestel en gesê: “U Majesteit, ek en hierdie vrou woon saam in dieselfde huis. My seun is in die huis gebore terwyl hierdie vrou by was.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 3