Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:27-40 Die Boodskap (DB)

27. Sê vir hulle om hom in die tronk te gooi. Sê ook hulle moet hom min brood en net ’n bietjie water gee. Hy moet daar bly totdat ek veilig van Ramot af teruggekom het.”

28. Maar Miga het gesê: “U Majesteit, as u veilig van Ramot af terugkom, het die Here werklik nie deur my gepraat nie.” Miga het na die skare gekyk en gesê: “Julle moet luister na wat ek vandag vir julle sê.”

29. Agab, die koning van Israel, en Josafat, die koning van Juda, is toe saam weg na Ramot in Gilead.

30. Op pad het Agab vir Josafat gesê: “Jy kan maar jou koningsgewaad aanhou, maar ek gaan my vermom voor die geveg begin.” Agab het hom vermom en die geveg om Ramot het begin.

31. Die koning van die Arameërs het 32 strydwaens gehad. Hy het elke drywer beveel om die koning van Israel te soek en uit te wis.

32. Skielik het die drywers vir Josafat met sy koningsklere gesien en het gemeen dit is Agab. Hulle het op hom afgepyl, maar Josafat het geskree dat hy nie Agab is nie.

33. Toe die drywers van die strydwaens sien dat hy nie Agab is nie, het hulle hom gelos.

34. Een van die Aramese soldate het heel toevallig ’n pyl in die lug geskiet. Dit het vir Agab getref en deur ’n swak plek in sy harnas gedring. Benoud het Agab vir sy wadrywer gesê: “Ek is gewond. Draai om en kry my vinnig hier weg.”

35. Die geveg was so hewig dat die drywer hom nie kon wegkry nie. Agab moes die hele dag in die wa bly staan en teen die Arameërs veg. Die wa was naderhand vol bloed en teen die aand is hy dood.

36. Die son was al amper onder toe Israel se manne beveel is: “Elkeen moet na sy eie dorp en stad teruggaan. Die oorlog is verby, want die koning is dood.”

37. Agab se liggaam is Samaria toe geneem en hy is daar begrawe.

38. By die fontein van Samaria waar die straatvroue hulle altyd gewas het, het hulle Agab se bebloede wa afgespoel. Die honde het sy bloed daar opgelek. Dit het presies gebeur soos die Here gesê het.

39. Alles wat Agab gedoen het, soos die huis met ivoorinlegwerk en al die stede wat hy gebou het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings beskryf.

40. Na Agab se dood het sy seun Ahasia hom opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22