Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Twee jaar lank was daar vrede tussen Israel en die Arameërs.

2. In die derde jaar het Josafat, die koning van Juda, vir Agab, die koning van Israel, gaan kuier.

3. In dié tyd het koning Agab van Israel vir sy amptenare gesê: “Weet julle dat Ramot in Gilead eintlik aan ons behoort? Waarom het ons dit nog nie van die koning van die Arameërs teruggevat nie?”

4. Agab het vir Josafat gevra: “Waarom gaan veg jy nie saam met ons teen Ramot nie?” Josafat het gesê: “Dit is goed so. My soldate en perde is ook joune.

5. Voor ons gaan, moet ons egter eers die Here vra,” het Josafat gesê.

6. Agab het toe omtrent 400 profete bymekaar laat kom en vir hulle gevra: “Moet ek teen Ramot in Gilead gaan veg of moet ek nie?” Al die profete het gesê: “Trek teen Ramot op, want die Here sal u laat wen.”

7. Josafat was onrustig en het gevra: “Is hier nie dalk nog ’n profeet wat vir die Here kan vra of ons reg optree nie?”

8. “Ja, daar is nog een,” het Agab gesê. “Hy is Miga die seun van Jimla. Ek hou niks van die vent nie, want hy profeteer nooit iets goeds vir my nie. Hy sê altyd net slegte dinge.” “Die koning moenie so praat nie,” het Josafat gesê. “Laat ons na hom luister.”

9. Agab het toe een van sy amptenare gestuur om Miga te gaan haal.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22