Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:20-29 Die Boodskap (DB)

20. Toe Agab vir Elia sien, sê hy: “Ja, my vyand, het jy my gekry?” “Ja,” het Elia geantwoord. “Jy het jou hele lewe lank net verkeerde dinge gedoen.

21. Daarom gaan die Here groot rampe oor jou bring. Hy gaan jou geheel en al vernietig. Al die mans in jou familie, oud en jonk, sal heeltemal uitgeroei word.

22. Die Here sal met jou maak soos Hy met Jerobeam die seun van Nebat en Baesa die seun van Agija gemaak het. Hy sal jou en jou familie van die aarde af wegvee omdat jy die Here met jou sonde verneder en Israel laat struikel het.

23. Die honde sal jou vrou Isebel in Jisreël verskeur en opvreet.

24. Elkeen van Agab se familie wat in die stad sterf, sal deur die honde opgevreet word. Dié wat in die veld sterf, sal deur die voëls opgevreet word.”

25. Niemand was nog so sleg soos Agab nie. Hy het die allerverskriklikste dinge gedoen. Sy vrou het hom aangemoedig om hierdie dinge te doen.

26. Hy het skaamteloos ander gode aanbid. Agab was net soos die Amoriete wat vroeër in die land gebly het en wat deur die Here verdryf is sodat Israel daarin kon woon.

27. Toe Elia klaar gepraat het, het Agab sy klere geskeur, ’n roukleed van sak aangetrek en begin vas. Hy het selfs met die roukleed aan geslaap. Hy het stadig geloop. Agab was verpletter.

28. Toe het die Here vir Elia gesê:

29. “Het jy gesien hoe Agab hom voor My verneder het? Omdat hy berou het, sal Ek nie die rampe in sy tyd laat gebeur nie, maar eers in sy seun se tyd.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21