Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:17-28 Die Boodskap (DB)

17. Die Here het toe vir Elia, die profeet uit Tisbe, gesê:

18. “Gaan na Agab toe in Samaria. Jy sal hom by Nabot se wingerd kry. Agab, die koning van Israel, het die wingerd vir hom gevat.

19. Sê vir Agab die Here sê: ‘Jy het Nabot vermoor. Nou vat jy ook sy eiendom. Die Here sê dat die honde jou bloed nog op dieselfde plek sal oplek waar hulle Nabot se bloed opgelek het.’”

20. Toe Agab vir Elia sien, sê hy: “Ja, my vyand, het jy my gekry?” “Ja,” het Elia geantwoord. “Jy het jou hele lewe lank net verkeerde dinge gedoen.

21. Daarom gaan die Here groot rampe oor jou bring. Hy gaan jou geheel en al vernietig. Al die mans in jou familie, oud en jonk, sal heeltemal uitgeroei word.

22. Die Here sal met jou maak soos Hy met Jerobeam die seun van Nebat en Baesa die seun van Agija gemaak het. Hy sal jou en jou familie van die aarde af wegvee omdat jy die Here met jou sonde verneder en Israel laat struikel het.

23. Die honde sal jou vrou Isebel in Jisreël verskeur en opvreet.

24. Elkeen van Agab se familie wat in die stad sterf, sal deur die honde opgevreet word. Dié wat in die veld sterf, sal deur die voëls opgevreet word.”

25. Niemand was nog so sleg soos Agab nie. Hy het die allerverskriklikste dinge gedoen. Sy vrou het hom aangemoedig om hierdie dinge te doen.

26. Hy het skaamteloos ander gode aanbid. Agab was net soos die Amoriete wat vroeër in die land gebly het en wat deur die Here verdryf is sodat Israel daarin kon woon.

27. Toe Elia klaar gepraat het, het Agab sy klere geskeur, ’n roukleed van sak aangetrek en begin vas. Hy het selfs met die roukleed aan geslaap. Hy het stadig geloop. Agab was verpletter.

28. Toe het die Here vir Elia gesê:

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21