Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 19:4-8 Die Boodskap (DB)

4. Daar het hy sy helper gelos en ’n dag lank alleen verder die woestyn in gestap. Moeg en uitgeput het hy naderhand onder ’n boom gaan sit. Hy wou nie meer leef nie en het gebid: “Here, die lewe maak net nie meer sin nie. Laat my tog maar doodgaan, want ek verdien dit nie om langer te leef nie.”

5. Elia was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Skielik het ’n engel aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Sit regop en eet eers iets.”

6. Verdwaas het hy rondgekyk en naby hom ’n stuk brood en ’n kruik vol water gesien. Hy het geëet en gedrink. Daarna het hy weer gaan lê en aan die slaap geraak.

7. Die engel het hom weer wakker gemaak. “Staan op en eet, want jy moet nog ’n ver ent stap. As jy nie nou eet nie, gaan die pad te lank word.”

8. Elia het alles geëet en gedrink en dit het hom krag gegee om 40 dae lank na Horeb, die berg van die Here, te stap.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 19