Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:27-38 Die Boodskap (DB)

27. Teen die middag se kant het Elia met die profete van Baäl begin spot. “Roep ’n bietjie harder,” het hy gesê. “Probeer weer, want hy is dalk in gedagte of besig. Of miskien is hy weg, of iewers op reis. Wie weet, dalk slaap julle god net, dan moet julle hom wakker maak.”

28. Die Baälprofete het nog harder begin bid. Toe dit nie werk nie, het die profete hulleself met skerp swaarde en messe begin stukkend sny sodat hulle vol bloed was, soos hulle gewoonte was. Hulle het dit gedoen om hulle god se aandag te probeer trek.

29. Laat daardie middag het die profete met alles wat hulle gehad het, begin skree en smeek. Niks het egter gebeur nie. Hulle het aangehou skree en raas totdat dit tyd was vir die aandoffer in Jerusalem.

30. Toe het Elia vir hulle gesê: “Kom, staan nader.” Almal het om Elia gaan staan. Hy het die altaar van die Here, wat die Baälprofete beskadig het, eers gou herstel.

31. Hy het twaalf groterige klippe gevat en dit opmekaargestapel. Die twaalf klippe moes die mense aan die twaalf stamme herinner, asook aan Jakob, wie se naam na Israel verander is.

32. Met die stene het Elia die altaar van die Here herbou. Hy het ook ’n diep watersloot om die altaar gegrawe.

33. Hy het toe die hout netjies op die altaar reggesit, die bul geslag en die stukke op die hout neergesit. Toe sê Elia: “Vat nou vier groot kruike en maak dit vol water. Gooi dan alles oor die bul en die hout uit.” Hulle het so gemaak.

34. Nadat hulle al die water oor die bul en die hout uitgegooi het, het Elia gesê hulle moet dit weer doen. Hulle het weer water gaan haal en dit oor alles omgekeer. Elia was nog nie tevrede nie en hulle moes nog ’n keer water gaan haal.

35. Naderhand het die water van die altaar af gestroom. Die sloot om die altaar was later vol water.

36. Teen die tyd dat die aandoffer gebring moes word, het Elia by die altaar gaan staan en gebid. “Here,” het hy gesê, “U is die God van Abraham, Isak en Jakob. Laat almal vandag besef dat U die God van Israel is en dat ek aan U behoort en dat ek al hierdie dinge doen omdat U gesê het ek moet.

37. Antwoord my vandag, Here, op so ’n manier dat hierdie volk sal besef U is die ware God en dat hulle na U moet terugkeer.”

38. Skielik het die Here ’n vuur uit die hemel gestuur. Dit was so kragtig dat dit die bul, die hout en die stene heeltemal verwoes het. Dit het ook die aarde verskroei en selfs die water in die sloot in ’n oogwink laat opdroog.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18