Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:1-17 Die Boodskap (DB)

1. Rehabeam is na Sigem toe. Al die mense uit die noorde van die land het daar bymekaargekom om hom te kroon.

2. Toe Jerobeam die seun van Nebat van hierdie groot volksbyeenkoms hoor, is hy onmiddellik uit Egipte weg. Hy het destyds soontoe gevlug omdat Salomo hom wou doodmaak.

3. Van die noorde se mense het hom ook van die byeenkoms laat weet. Jerobeam het teruggekom en is saam met al die mense na Rehabeam toe.

4. By Sigem het die mense toe vir die koning gesê: “Rehabeam, u pa het ons baie sleg behandel. Hy het die lewe vir ons regtig moeilik gemaak. As u nou ons las ’n bietjie ligter en die lewe vir ons ’n bietjie makliker gaan maak, sal ons u getrou dien.”

5. Rehabeam het egter gesê: “Ek wil eers daaroor gaan dink. Kom oor drie dae terug en dan sal ek julle sê wat ek besluit het.”

6. Rehabeam het toe met die ouer en ervare mans wat nog vir sy pa gewerk het, gaan gesels. “Wat dink julle moet ek vir die mense sê?” het hy gevra.

7. Hulle het geantwoord: “As u werklik vir hierdie mense omgee, maak dan die lewe vir hulle makliker, en hulle sal u altyd getrou dien.”

8. Rehabeam het egter die ouer mans se raad summier verwerp. Hy wou eerder hoor wat die jonger mans sê, die mans wat saam met hom grootgeword het en wat nou belangrike posisies beklee het.

9. “Hoe dink julle moet ek die mense antwoord?” het Rehabeam hulle gevra. “Hulle vra dat ek hulle las moet ligter maak, maar wat sê julle daarvan?”

10. Die jong mans het geantwoord: “Sê vir hulle: ‘My pinkie is dikker as my pa se middel.’

11. En as hulle vir jou vra wat dit beteken, moet jy sê: ‘My pa het die lewe vir julle moeilik gemaak, maar ek gaan dit nog moeiliker maak; hy het julle met ’n sweep geslaan, maar ek sal julle met gesels slaan.’”

12. Drie dae later het Jerobeam en die noorde se mense weer bymekaargekom. Hulle was gretig om te hoor wat Rehabeam gaan antwoord.

13. Omdat Rehabeam die ouer mans se raad verwerp het, het hy hard en lelik met die mense gepraat.

14. Omdat hy die jonger mans se raad gevolg het, het hy sonder enige tegemoetkomendheid gesê: “My pa het julle swaar laat kry, maar ek sal julle nog swaarder laat kry. Hy het julle met ’n sweep geslaan, maar ek gaan julle met gesels slaan.”

15. Dinge het presies gebeur soos die Here deur die profeet Agija van Silo vir Jerobeam gesê het. Dit is waarom Rehabeam nie eens na die ouer mense wou luister nie.

16. Toe die noorde se mense Rehabeam se storie hoor, het hulle almal begin skree: “Weg met Dawid en sy nageslag! Ons is nie deel van Dawid se mense nie! Wat het hulle al ooit vir ons gedoen! Israel, kom ons gaan huis toe. Laat Rehabeam maar self sien en kom klaar.” So het die mense van Israel hulle teen Rehabeam verset.

17. Israel het toe hulle eie pad geloop. Al wat vir Rehabeam oorgebly het, was die een stam, die stam van Juda in die suide van die land.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12