Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 11:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Salomo was lief vir buitelandse vroue en hy het baie van hulle gehad. Behalwe die dogter van die Egiptiese koning was hy ook met vroue uit Moab, Ammon, Edom, Sidon en die land van die Hetiete getroud.

2. Salomo het vir hulle lief geraak en met hulle getrou al was die Here daarteen gekant. Hy het Israel altyd gewaarsku om nie met dié vroue te trou nie. Hulle kon Israel baie maklik van die Here af wegrokkel en hulle ander gode laat aanbid.

3. Salomo het met 700 prinsesse van ander lande getrou en dan het hy ook nog 300 byvroue gehad. Hulle het sy hart van die Here af laat wegdraai.

4. Teen die tyd dat hy ’n ou man was, het hy lankal reeds ’n spul vreemde gode aanbid. Salomo het toe nie meer die Here so liefgehad soos sy pa, Dawid, nie.

5. Hy het selfs vir Astarte, die godin van Sidon, en vir Milkom, die aaklige god van Ammon, aanbid.

6. Salomo het teen die Here gesondig. Hy was nie so getrou aan die Here soos sy pa, Dawid, nie.

7. Op die berg oos van Jerusalem het hy ’n plek gebou waar Kemos, die verskriklike god van Moab, en Milkom, daardie aaklige god van Ammon, aanbid kon word.

8. Hy het ook plekke gebou waar sy buitelandse vroue vir hulle gode offers kon bring en wierook kon brand.

9. Die Here was diep teleurgesteld in Salomo en het kwaad geword vir hom. Alhoewel die Here twee keer aan Salomo verskyn het, het hy die Here nie meer liefgehad nie.

10. Salomo was glad nie meer in die Here geïnteresseerd nie; hy het sy hart vir die ander gode gegee.

11. Die Here was seergemaak en kwaad vir Salomo. Hy het toe vir hom gesê: “Jy het doelbewus jou verhouding met My verbreek. Jy wil nie meer my gebooie gehoorsaam nie. Ek gaan daarom jou hele koninkryk van jou af wegneem en dit vir een van jou amptenare gee.

12. Ter wille van jou pa, Dawid, sal ek dit nie nou doen terwyl jy nog leef nie. Dit sal gebeur wanneer jou seun begin regeer.

13. Ek sal egter nie die hele koninkryk wegneem nie. Ek sal een stam, die stam van Juda, ter wille van Dawid en ter wille van Jerusalem, waarin Ek aanbid word, laat oorbly.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 11