Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 10:5-18 Die Boodskap (DB)

5. Toe sy die kos op die tafel sien, asook die wonings van sy amptenare, die vermoë van sy paleispersoneel om goed te organiseer, die klere van sy amptenare, die bediening van sy kelners, en die offers wat hy by die tempel gebring het, het sy na haar asem gesnak.

6. Sy het vir Salomo gesê: “Alles wat ek van u in my eie land gehoor het, is waar. Alles is presies soos die mense gesê het.

7. Ek moes self kom kyk, anders sou ek dit nooit geglo het nie. En ek het skaars nog die helfte gehoor. U kennis en u rykdom is nog baie groter as wat hulle my vertel het.

8. Hoe gelukkig is u mense darem nie! Hoe gelukkig is die amptenare nie wat elke dag saam met u werk en al u wysheid hoor nie!

9. Prys die Here, u God! Hy het u so liefgehad dat Hy u koning van Israel gemaak het. Hy het ook sy volk Israel so liefgehad dat Hy u as koning aangestel het sodat u vir hulle kan leer hoe om reg te leef.”

10. Sy het toe vir die koning al die geskenke gegee wat sy saamgebring het: 4  000 kilogram goud en ’n groot hoeveelheid juwele en speserye. Niemand sou ooit weer soveel en sulke goeie geskenke ontvang nie.

11. (Hiram se vloot wat vir Salomo goud uit Ofir gebring het, het ook ’n groot hoeveelheid jenewerhout en juwele saamgebring.

12. Salomo het van die jenewerhout relings vir die tempel en die paleis gemaak. Hy het ook vir die tempelsangers harpe en liere van die hout laat maak. Dit was die allerbeste jenewerhout wat nog ooit na Israel toe gebring is. Hierna sou daar ook nooit weer sulke kosbare hout in Israel wees nie.)

13. Koning Salomo het die koningin van Skeba alles gegee wat sy begeer en gevra het. Dit is nou behalwe die geskenke wat hy uit sy eie vir haar gegee het. Sy is toe met haar hele geselskap daar weg en het na die land van Skeba teruggegaan.

14. Elke jaar het Salomo ongeveer 23 000 kilogram goud ontvang.

15. Dit is afgesien van die handelaars se belasting, asook die geld wat die Arabiese konings en die twaalf streke van Israel moes betaal.

16. Salomo het 200 groot skilde gemaak en elkeen met sewe kilogram goud laat oortrek.

17. Hy het ook 300 kleiner skilde gemaak en elkeen met amper twee kilogram goud oorgetrek. Salomo het al hierdie skilde aan die mure van die Libanonsbosgebou gehang.

18. Verder het die koning ’n groot troon laat maak. ’n Deel daarvan het hy met ivoor oorgetrek en die res met die allersuiwerste goud.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 10