Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 6:3-11 Die Boodskap (DB)

3. Julle onthou wat by die doop gebeur het, of hoe? Toe ons in die Naam van Christus Jesus gedoop is, het ons deel geword van alles wat met Hom by die kruis gebeur het, van sy dood af tot by sy opstanding.

4. As dit dan waar is dat ons saam met Jesus die dood binnegestap het, is dit net so waar dat ons saam met Hom lewend anderkant uitgekom het toe God Hom met sy groot krag en heerlikheid uit die dood laat opstaan het. Daarom kan ons ook nou op ’n nuwe manier leef.

5. Omdat ons saam met Jesus aan die kruis doodgegaan het, sal ons beslis saam met Hom oor die dood triomfeer.

6. Ons weet mos dat daardie sondige mens wat ons eenmaal was, kant en klaar saam met Jesus gekruisig is.

7. Ons ou self, wat van vroeg tot laat agter elke sonde aangeloop het, is nou morsdood en begrawe. Daarom is ons nie meer slawe van die sonde nie. Sonde het mos nie ’n houvas op iemand wat klaar doodgegaan het nie.

8. Ons wat saam met Christus gesterf het, glo dat ons saam met Hom sal leef.

9. Ons glo dit omdat ons weet dat Jesus, nadat Hy uit die dood opgestaan het, nooit weer sal doodgaan nie. Die dood het nie meer ’n houvas op Hom nie.

10. Toe Hy doodgegaan het, het Hy vir altyd ’n einde aan die mag van die sonde gemaak. Nou leef Hy as oorwinnaar daar by God.

11. Julle moet net soos Jesus leef: beskou julleself as dood vir die sonde. Leef net vir God! Doen dit in die Naam van Christus Jesus.

Lees volledige hoofstuk Romeine 6