Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 5:4-10 Die Boodskap (DB)

4. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm. En ’n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag.

5. Wanneer ons al ons hoop op God stel, sal ons nooit teleurgesteld wees nie. Want Hy vul ons lewens elke dag met sy liefde. Dit doen Hy deur die Heilige Gees wat by ons bly.

6. Christus het op presies die regte tydstip vir ons gesterf. Hy het sy lewe vir ons opgeoffer toe ons nog in die sonde rondgelê het. Dit is totaal ondenkbaar dat Christus bereid was om so iets vir ons te doen.

7. Nie een van ons sal ooit ons lewe vir iemand anders prysgee nie. Ja, miskien nog vir ’n baie goeie vriend of vir die een of ander goeie mens.

8. Maar God is heeltemal anders as ons. Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek doodgegaan het toe ons almal nog ’n spul sondaars was.

9. As God so ongelooflik goed vir ons is deur ons van ons sondes vry te spreek omdat Christus se bloed in ons plek gevloei het, hoef ons nie meer vir sy oordeel bang te wees nie.

10. Dan sal Jesus ons ook mos help wanneer ons voor God se oordeelstroon moet gaan staan. Sy dood het ons in die regte verhouding met God gebring toe ons nog aartsvyande van Hom was. Hoeveel te meer sal ons dan nie deur die lewende Jesus van die oordeel van God gered word nie?

Lees volledige hoofstuk Romeine 5