Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 3:2-13 Die Boodskap (DB)

2. Ja, tog! God het Hom immers aan Israel kom bekendmaak. Hy het ook toegelaat dat Israel sy woorde en dade op skrif stel.

3. Maar wat dan as party Israeliete ongehoorsaam aan God is? Bring hulle ongehoorsaamheid God se lojaliteit in die gedrang?

4. Nee, beslis nie. God hou altyd sy woord. Hy bly lojaal selfs al lieg en bedrieg almal op aarde. Dit is soos een van die psalms sê: “Dit wat U sê, is reg. U wen altyd u saak wanneer mense U beskuldig dat U ontrou is.”

5. God is heeltemal reg as Hy ons straf as ons verkeerde dinge doen. Sy straf is mos nie ’n teken dat Hy nou skielik onregverdig is nie. (Nou praat ek op ’n doodgewone manier.)

6. Nee, natuurlik nie. God moet sy eer op die een of ander manier beskerm. Daarom veroordeel Hy almal wat nie doen wat Hy vra nie.

7. Party mense sê egter dat God onregverdig is as Hy hulle oor hulle sondes straf. Hulle loop en vertel dat al hulle leuens eintlik ’n groot hulp vir God is.

8. Dit bied glo aan Hom die geleentheid om te wys dat Hy die waarheid gepraat het toe Hy gesê het dat Hy sondaars vergewe. Die ergste van alles is dat hierdie mense agter my rug sê dat hulle dit by my gehoor het. Natuurlik is dit ’n leuen. Ek verkondig nie sulke dinge nie. Die mense wat dit oor my sê, sal hulle verdiende straf kry.

9. Wat dan? Help dit regtig om ’n Jood te wees? Nee, glad nie. Ek het mos vroeër al gesê dat ons almal in die greep van die sonde vasgevang is, of ons nou Jode is of nie.

10. Die Bybel stel dit baie duidelik:“Niemand op aarde leef reg nie, niemand nie,

11. niemand probeer om volgens God se wil te leef nie.

12. Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ’n enkele een nie.

13. Hulle kele is ’n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif.

Lees volledige hoofstuk Romeine 3