Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 6:9-14 Die Boodskap (DB)

9. Die Lam breek toe die vyfde seël oop. Ek het ’n altaar gesien. Daar het mense spesiale geskenke vir God kom gee. Onder die altaar was die siele van mense wat met swaarde doodgekap is. En hoekom is hulle doodgemaak? Omdat hulle aan die boodskap van God vasgehou het en nie bang was om met oortuiging daaroor te praat nie.

10. Hulle het hard geskree sodat almal kon hoor: “O, hoe lank nog, grote Heerser? U is anders as mense en U is die bron van alle waarheid. Wanneer gaan U die mense straf wat so sleg lewe? Wanneer gaan U hulle laat betaal omdat hulle ons doodgemaak het?”

11. God gee toe vir elkeen van hulle die duurste en pragtigste wit klere; klere wat ’n mens vir ’n belangrike geleentheid nodig het. “Wees nog ’n rukkie rustig,” sê God. “Moenie oorhaastig wees nie. Al julle mede-Christene wat God met soveel oortuiging saam met julle dien, is nog nie hier nie. Hulle moet nog eers soos julle vir God sterf.”

12. Ek sien toe dat die Lam die sesde seël breek. Die aarde het geweldig begin skud en bewe. Asof iemand ’n pikswart doek oor die son gegooi het, het die son se strale verdwyn. Die maan was so ’n rooi kleur, net soos bloed.

13. Sterre het uit die hemel op die aarde gereën. Dit het gelyk soos blare wat in die herfs van ’n boom afval as ’n mens dit kwaai skud.

14. Die blou hemel is soos ’n pannekoek opgerol. Selfs die eilande en berge is heen en weer geskud en rondgegooi. Die mense het vir al wat hulle werd is, gehardloop en in grotte en klowe in die berge gaan wegkruip.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 6