Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 2:20-29 Die Boodskap (DB)

20. Maar daar is iets waarvan Ek nie hou nie en waaroor Ek julle kwalik neem. Julle laat daardie vrou Isebel toe om te doen wat sy wil. Sy noem haarself mos iemand wat God se boodskap verkondig. Al wat sy doen, is om die mense wat My dien te mislei om verkeerde dinge aan te vang. Sy leer hulle om afgode te dien. Daar neem hulle aan onsedelike feeste deel en hulle sit sommer saam met die afgode aan tafel ook.

21. Ek het haar oorgenoeg kans gegee om van die verkeerde pad af om te draai, maar sy wou nie. Sy vaar maar voort in haar onsedelikheid. Kyk nou mooi.

22-23. Ek gaan haar met ’n siekbed straf. En almal wat saam met haar so onsedelik geleef het, sal bitter swaarkry. Daarvoor sal Ek sorg. Dit is hulle voorland, behalwe as hulle heeltemal ’n omkeer in hulle lewe maak en My weer voluit begin dien. Ek sal elkeen uitwis wat haar slegte voorbeeld volg. Elke kerklidmaat sal dan besef dat mense My nie om die bos kan lei nie. Nee, niemand kan iets vir My wegsteek nie. Ek weet wat elkeen dink en wat hier diep binne hom aangaan. Onthou dit maar: elke gelowige sal van My kry wat hy volgens sy optrede verdien.

24. Daar is ook nog ’n klomp ander gelowiges in Tiatira. Hulle steur hulle nie aan die verkeerde dinge wat Isebel se mense kwytraak nie. Om die waarheid te sê, hulle het nie eens moeite gedoen om agter te kom wat die sogenaamde “diep kennis” is waaroor hierdie mense so te kere gaan nie. Dit kom buitendien van Satan af. Vir hulle wil Ek dit nie met ekstra versoeke swaarder maak as wat dit reeds is nie.

25. Al wat Ek vra, is: Staan net vas by die evangelie soos julle dit leer ken het, tot Ek weer kom.

26. Hy wat hom deur niks laat stuit nie en tot heel aan die einde doen wat Ek wil hê, sal nie spyt wees nie. Ek sal sulke mense mag gee om oor die lot van al die mense op aarde te besluit.

27-28. Die Vader het presies daardie mag vir My gegee. Julle sal oor al die mense heers. Met mense wat dit nie wil aanvaar nie, sal dit gaan soos met ’n porseleinpot wat met ’n yster in stukke geslaan word. Maar, vir elkeen wat volhou om My te dien, sal Ek ’n nuwe en wonderlike toekoms gee.

29. Maak oop julle ore. Hoor wat die Heilige Gees vir julle as Christene wil sê.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 2