Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 2:14-20 Die Boodskap (DB)

14. Maar Ek het nog ’n klomp probleme met julle. Party van julle gemeentelede luister na alles wat Bileam sê. Dit is mos hy wat vir Balak geleer het hoe om die Israeliete om te praat om afgode te begin dien. Die Israeliete het selfs aan die vieslike en onsedelike feeste deelgeneem en lekker aan afgodsvleis gesmul.

15. Julle laat julle net so deur die Nikolaïete mislei. Julle eet maar alles wat hulle sê vir soetkoek op.

16. Los hierdie dinge en luister weer voluit na My. As julle dit nie doen nie, sal julle gou julle fout agterkom. Ek sal die klomp ongehoorsames onder julle tref met die skerp swaard uit my mond. Hulle sal voel wat dit beteken om onder my oordeel deur te loop.

17. Maak oop julle ore. Luister mooi na wat die Heilige Gees vir julle sê. Wie die wenpaal haal, sal beloon word. Ek sal vir hom gee van die hemelse brood wat weggesteek is. Ek sal ook vir hom ’n wit klippie gee. Op die klippie is ’n naam geskryf wat net vir hom bedoel is. Niemand, behalwe die een wie se klippie dit is, sal weet wat die naam is nie.

18. Skryf die volgende aan die leier van die gemeente in Tiatira: Dit is ’n boodskap van die Seun van God af. Sy gloeiende oë kyk niks mis nie. Sy voete is van pragtige brons.

19. Ek weet presies wat julle doen. Noem maar op: julle het mekaar lief; julle geloof is sterk; julle help mense wat julle hulp nodig het; julle gee nie sommer moed op nie. En wat hierdie dinge betref, gaan dit elke dag net beter met julle.

20. Maar daar is iets waarvan Ek nie hou nie en waaroor Ek julle kwalik neem. Julle laat daardie vrou Isebel toe om te doen wat sy wil. Sy noem haarself mos iemand wat God se boodskap verkondig. Al wat sy doen, is om die mense wat My dien te mislei om verkeerde dinge aan te vang. Sy leer hulle om afgode te dien. Daar neem hulle aan onsedelike feeste deel en hulle sit sommer saam met die afgode aan tafel ook.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 2