Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 19:1-6 Die Boodskap (DB)

1. Net hierna hoor ek uit die hemel ’n vreeslik harde lawaai. Dit het geklink soos ’n massa mense wat gelyk praat: “Halleluja, prys God! Ons God red ons, want Hy is sterker en belangriker as almal.

2. Wat Hy besluit, is altyd regverdig en soos dit regtig moet wees. Hy het besluit om die goddelose vrou, Babilon, te straf. Sy het mos met haar goddeloosheid mense heeltemal deurmekaargekrap en mislei. God het haar dubbel en dwars terugbetaal vir elkeen wat sy doodgemaak het omdat hulle Hom gedien het.”

3. Hulle het verder gesing: “Prys God, halleluja! Die rook van die smeulende stad trek vir ewig en altyd op.”

4. Die 24 leiers van die kerk en die vier lewende wesens het vol eer en respek voor God neergesak. Hy het op sy troon gesit. Hulle het uitgeroep: “Laat alles net so wees! Prys God!”

5. Ek hoor toe nog ’n stem uit die rigting van die troon: “Laat lof vir ons God oor julle lippe rol! Laat elkeen wat Hom dien dit doen, klein en groot, elkeen wat ontsag vir Hom het!”

6. Toe het ek weer ’n groot skare hoor skree. Dit het soos ’n geweldige storm geklink met donderslae en reën wat neergiet: “Halleluja, prys God! Daar is niks wat die Here, ons God, nie kan doen nie. Hy heers oor almal.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 19