Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 17:8-18 Die Boodskap (DB)

8. Dit was in die verlede belangrik, maar nou is dit weg. In die toekoms sal dit weer uit die onderaardse diepte uitkom, net om totaal vernietig te word. Mense sal vreeslik beïndruk wees as hulle die dier sien, omdat hy in die verlede daar was, toe verdwyn het, maar skielik weer in die toekoms te voorskyn sal kom. Maar dit is nie waar van alle mense nie. Dit is net waar van mense wie se naam nie van die begin af in die boek van die ewige lewe geskrywe is nie.

9. “Om al hierdie dinge te verstaan moet ’n mens mooi dink. Kophou is die antwoord. Die sewe koppe van die dier stel die sewe heuwels voor waarop die vrou sit, met ander woorde, waarop die stad gebou is. Daar was ook sewe regeerders.

10. Vyf van hulle was al klaar daar. Die sesde een regeer nou. Die sewende een is nog op pad. Hy sal nie lank regeer nie.

11. Dan is daar die dier wat in die verlede daar was, maar nou van die toneel verdwyn het. Hy is deel van sy sewe voorgangers, maar is tegelyk die agtste regeerder. Hy is op pad om sy moses teë te kom. Hy gaan vernietig word.

12. “Die tien horings wat jy gesien het, is die tien regeerders wat nog nie begin regeer het nie. Hulle sal saam met die dier ’n uur lank soos konings kan regeer.

13. Al tien het net een doel voor oë: hulle wil al hulle mag en invloed vir die dier gee.

14. Hulle sal saam oorlog maak teen die Lam, maar die Lam sal hulle ’n goeie pak slae gee. Die Lam is die regeerder van al die regeerders. Al sy mense kan weet dat Hy hulle spesiaal na Hom toe geroep het. Hulle is spesiaal gekies en het aan Hom getrou gebly.”

15. Die engel sê toe verder: “Die baie water wat jy gesien het, waaroor die slegte vrou sit, moet vergelyk word met al die mense van die wêreld. Dit maak nie saak waar hulle vandaan kom, hoe hulle lyk of watter taal hulle praat nie.

16. Die tien horings (dit is mos die tien regeerders) wat jy gesien het en die rooi dier sal niks vir die slegte vrou voel nie. Hulle sal haar molesteer en sonder ’n draad klere aan laat lê. Dan sal hulle haar met hulle tande uitmekaarskeur en opeet. Wat oorbly, sal hulle met vuur verbrand.

17. God self het daarvoor gesorg dat die regeerders op die idee gekom het om hulle mag vir die dier te gee. Hulle het presies gedoen wat God wou gehad het. So sal dit aangaan tot alles wat God gesê het, presies gebeur het.

18. Die vrou wat jy gesien het, is die groot en belangrike stad wat oor al die heersers van die wêreld getroon en geheers het.”

Lees volledige hoofstuk Openbaring 17