Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 16:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Toe hoor ek iemand wat baie hard praat. Die stem het uit God se blyplek gekom en met die sewe engele gepraat: “Weg is julle! Gaan maak die sewe bakke wat vol van die woede en die straf van God is, op die aarde leeg.”

2. Die eerste een trek toe dadelik weg en gaan maak sy bak op die aarde leeg. Dadelik het die vieslikste swere wat jy jou kan voorstel op die mense uitgeslaan. Dit het egter net op daardie mense uitgeslaan wat die merk van die dier gedra en die beeld van die dier soos ’n god aanbid het.

3. Die tweede engel gooi sy bak toe op die see uit. Die water het bloederig geword asof dit uit ’n dooie man uitloop. Alles wat in die see geleef het, is daar en dan dood.

4. Toe volg die derde engel met sy bak. Sy bak se inhoud het op die riviere en fonteine beland. Al die water het in bloed verander.

5. Die engel wat vir water moes sorg, sê toe: “U straf hierdie mense regverdig. Want U was altyd daar en is nog daar. U is die Gans Andere. Niemand is soos U nie! Hierdie slegte mense het die mense wat aan U behoort, doodgemaak.

6. Hulle het die bloed laat vloei van mense wat ander van U vertel het. Daarom gee U juis vir hulle bloed om te drink - dit is hulle verdiende loon!”

7. Uit die rigting van die altaar hoor ek toe: “Ja, Here God. Daar is niks wat U nie kan doen nie en daar is niemand so sterk soos U nie. As U iets besluit, is dit soos dit moet wees. U maak nooit ’n fout met ’n oordeel nie.”

8. Die vierde engel gooi toe sy bak op die son uit. Skielik het lang vuurtonge van die son die mense verskroei. Dit was geweldig warm.

9. Die mense het gevloek en God uitgeskel. Hy is mos die een wat hierdie dinge laat gebeur. Tog het hulle God nie begin dien nie. Hulle wou nie erken dat Hy regtig die belangrikste van almal is nie.

10. Toe kom die vyfde engel aan die beurt. Die inhoud van sy bak het op die troon van die dier beland. Oral waar hy invloed uitgeoefen het, het dit so donker geword dat jy nie jou hand voor jou oë kon sien nie. Buite hulleself van pyn het die mense wat Satan dien hulle tonge gekou.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 16