Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 11:15-19 Die Boodskap (DB)

15. Toe blaas die sewende engel op sy trompet. ’n Geweldig harde stem uit die hemel sê toe: “Ons Here en sy Messias regeer nou oor die wêreld. Almal weet dit! Hy sal vir ewig en altyd bly regeer.”

16. Die 24 leiers van die kerk (wat op die trone in die hemel gesit het) het eenvoudig voor God neergeval

17. en Hom aanbid:“Here God, vir wie anders kan ons dankie sê as maar net vir U? Niemand is so sterk soos U en kan doen wat U doen nie. U is nou daar soos U nog altyd daar was. U gebruik die groot krag wat U het en U regeer.

18. “Mense wat U nie dien nie probeer uit woede teen U wal gooi. Dit is tevergeefs, want U gaan hulle hulle verdiende straf gee. Die tyd het gekom om almal wat al dood is deur God se oordeel te laat toets. Ja, die tyd vir God se groot prysuitdeling is op hande: die mense wat Hom getrou gedien het, sal Hy beloon. Sy boodskappers en al die ander mense wat aan Hom behoort, sal nie oorgesien word nie. “Of iemand nou belangrik of onbelangrik is, as hy God as God erken en gerespekteer het, nooi God hom na sy prysuitdeling uit. “Die tyd is ook daar dat God die mense sal vernietig wat in hulle eie lewe net ’n pad van vernietiging agtergelaat het.”

19. Toe skuif die deure van God se tempel in die hemel oop. Die ark, wat die teken van God se ooreenkoms met sy mense is en waar God spesiaal teenwoordig is, het in die tempel gestaan, oop en bloot vir almal om te sien. Weerligstrale het geslaan en die donder het gedreun. Groot haelstene het geval en die aarde het gebewe.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 11