Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 7:18-29 Die Boodskap (DB)

18. ’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie en ’n slegte boom kan ook nie goeie vrugte oplewer nie.

19. Daar wag groot probleme op alle bome wat slegte vrugte dra. Hulle word eenvoudig afgekap en in die vuur gegooi. Dus, as julle wil weet watter mense die goeie nuus verdraai, moet julle maar net gaan kyk hoe hulle leef. Hulle lewens wys watter soort vrugte hulle dra.

20. “Daar is baie mense wat maak asof hulle My dien. Hulle noem My om elke hoek en draai ‘Here en Meester’. Daar wag egter ’n groot verrassing op hulle. My Vader gaan glad nie vir hulle plek hê in sy nuwe wêreld nie. Net daardie mense wat doen wat Hy vra, sal by Hom welkom wees.

21. “Wanneer die laaste dag op die aarde aanbreek, sal Ek self kom om oor almal te oordeel.

22. Dan sal al hierdie skynheilige mense voor My kom staan en vir My sê: ‘Here en Meester, onthou U dan nie watter groot dinge ons alles in u Naam gedoen het nie? Ons het gepreek, duiwels uit mense verdryf en allerhande magtige dade gedoen.’

23. “Weet julle wat Ek dan sal antwoord? Ek sal dan vir hulle sê: ‘Ek ken julle van g’n kant af nie. Julle spul slegte mense verdien die hel. Gee dadelik pad voor My!’”

24. “Ek het julle nou baie dinge oor God geleer. As julle my woorde ter harte neem en dit doen, tree julle reg op. Dan is julle lewens op ’n stewige fondament gebou.

25. Wanneer die reëns en storms oor julle losbreek, sal julle lewenshuis nooit inmekaarstort nie. Want julle lewens is gebou op die Rots wat nooit kan padgee nie.

26. Aan die ander kant: as julle my woorde hoor en dit nie doen nie, is julle regtig dom. Dan is julle lewens op ’n hoop sand gebou.

27. Wanneer die reëns en die storms oor julle losbreek, sal julle lewens uiteindelik inmekaarstort. Dan is die doderyk julle voorland.”

28. Toe Jesus klaar was met sy lering op die berg, was die skare stom van verbasing. Hulle was vol lof oor sy aangrypende woorde.

29. Jesus se woorde het heeltemal anders geklink as dié van hulle leermeesters. Hy het met groot gesag en oortuiging gepraat.

Lees volledige hoofstuk Matteus 7