Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 7:13-19 Die Boodskap (DB)

13. “Natuurlik is dit nie maklik om te doen wat die Bybel vra nie.

14. Die pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal. Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra. Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed. Baie mense loop daarop. Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.”

15. “Julle moet lig loop vir mense wat die goeie nuus verdraai. Hulle kom na julle toe met allerhande mooi godsdienstige praatjies, maar eintlik is hulle so gevaarlik soos ’n spul wolwe.

16. Dit is maklik om hierdie mense uit te ken. Kyk maar net hoe hulle leef. As hulle heeltyd verkeerde dinge doen, wys dit dat hulle ’n spul leuenaars is.

17. “’n Mens se lewe is soos ’n vrugteboom: goeie vrugtebome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte.

18. ’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie en ’n slegte boom kan ook nie goeie vrugte oplewer nie.

19. Daar wag groot probleme op alle bome wat slegte vrugte dra. Hulle word eenvoudig afgekap en in die vuur gegooi. Dus, as julle wil weet watter mense die goeie nuus verdraai, moet julle maar net gaan kyk hoe hulle leef. Hulle lewens wys watter soort vrugte hulle dra.

Lees volledige hoofstuk Matteus 7