Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:6-7-17 Die Boodskap (DB)

6-7. Terwyl die Joodse leiers met hierdie wraakplanne besig was, was Jesus juis in Betanië. Hy het by Simon, wat eers melaats was, gebly. Jesus-hulle was besig om te eet. ’n Vrou kom toe na Hom toe met ’n fles duur olie. Die olie was soos parfuum. Sy skud die hele fles olie oor Hom uit.

8. Toe die ander aan die tafel sien wat sy besig was om te doen, was hulle sommer baie omgekrap. “Hou op! Jy mors die goed,” roep hulle uit.

9. “Ons kon dit vir baie geld verkoop het. Dink net hoeveel arm mense ons daarmee kon gehelp het.”

10. Toe Jesus sien hoe hulle reageer, sê Hy: “Waarom kraak julle die vrou so af? Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie.

11. Onthou een ding: julle kan later die armes help, want daar sal altyd arm mense wees. Maar Ek gaan nie altyd by julle wees nie.

12. Sy het hierdie geurige olie oor my liggaam gegooi terwyl Ek nog hier by julle is. Hierdie liggaam gaan binnekort in die graf lê.

13. Daarom kan julle seker wees dat Christene nooit sal vergeet wat sy vandag gedoen het nie. Waar mense in die toekoms ook al oor My gaan praat, sal hulle oor haar ook praat. En hulle sal dit graag doen.”

14. Omtrent in hierdie tyd is Judas Iskariot, ’n dissipel, skelm na die leiers van die priesters toe.

15. “Ek kan vir julle gaan wys waar Jesus is. Wat is dit vir julle werd?” “Ons sal vir jou 30 stukke silwer gee,” kom die antwoord.

16. Van toe af het Judas net die regte oomblik gesoek om Jesus te verraai.

17. Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood in Egipte, kom Jesus se dissipels na Hom toe. “Waar moet ons die paasete gaan voorberei?” vra hulle.

Lees volledige hoofstuk Matteus 26