Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:50-59 Die Boodskap (DB)

50. Jesus antwoord hom: “Lewer jy ’n vriend só oor?” Die spul polisiemanne het nie op hulle laat wag nie. Hulle was blitsvinnig op Jesus en het Hom geboei.

51. Een van Jesus se vriende pluk toe sy swaard uit. Net daar kap hy ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf.

52. Vinnig keer Jesus hom: “Bêre jou swaard, man. As jy met ’n swaard wil baklei, gaan jou vyand jou netnou met sy swaard doodsteek. Los dit!

53. Sê My liewer, hoe het jy My leer ken? Dink jy nie Ek kan my Vader vra om te kom help as Ek wil nie? Ek sê jou, twaalf groot groepe engele - selfs meer as Ek wil - staan slaggereed; reg om te kom help as dit moet.

54. Maar as Ek hulle nou roep, kan die Skrif mos nie vervul word wat sê wat met My moet gebeur nie.”

55. Jesus draai daarop na die klomp polisiemanne en vra: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Dink julle julle kom die een of ander terroris vang? Dag vir dag het Ek daar in die tempel gesit en vir julle gepreek. Tog het julle My nie kom vang nie. Nou skielik duik julle hier in die nag op met wapens en al!

56. Maar dit verbaas My nie, want dit waaroor die profete lank terug geskryf het, gebeur nou hier voor ons almal se oë.” Terwyl Hy so praat, het sy dissipels gemaak dat hulle wegkom.

57. Hulle het Jesus daarna na die hoëpriester, Kajafas, toe gevat. Al die Joodse leiers het klaar daar gesit en wag.

58. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg tot by daardie huis. Daar het hy tussen die werksmense in die agterplaas gaan sit om te kyk wat gebeur.

59. Die Joodse leiers het saamgewerk met die Joodse Raad om klagtes teen Jesus te soek wat hulle rede sou gee om Hom dood te maak. Dit het nie saak gemaak of dit waar was of nie.

Lees volledige hoofstuk Matteus 26