Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Daarna is Jesus-hulle daar weg. Terwyl hulle so by die tempel verbystap, praat sy dissipels oor hoe mooi en massief die gebou is.

2. Jesus sê toe: “Ja-nee, dit is darem ’n groot en pragtige gebou. Maar Ek het slegte nuus. Hierdie gebou gaan een van die dae tot op die grond toe afgebreek word. Daar sal nie ’n baksteen wees wat op sy regte plek gelos gaan word nie.”

3. Terwyl hulle in die Olyfberg se rigting stap, vra Jesus se dissipels Hom: “Wat sal die teken wees dat ons kan weet: die einde is hier; maak gereed, die Messias is finaal op pad?”

4. “Wees versigtig vir mense wat allerhande stories hieroor gaan versin,” sê Jesus toe vir hulle.

5. “Sulke mense sal sommer skielik van êrens af kom en vir almal vertel dat dié een of daardie een die eintlike Messias is. En hulle sal dit regkry om baie mense te flous. Moenie sê Ek het julle nie gewaarsku nie.

6. “Aan mense wat mekaar wil uitwis, sal daar ook nie ’n einde kom nie. Julle sal nie net die nuus kry van die mense wat oorlog maak nie. Dit sal so naby aan julle kom dat julle die mense self sal kan hoor veg. Moenie dan paniekerig word nie. Hierdie dinge gaan gebeur, maar dit is nog nie die teken dat die einde daar is nie.

7. Nasies sal mekaar met geweld probeer oorheers en die een heerser sal van die ander heerser ontslae probeer raak. Soos vroeër sal daar ook tye wees dat kos baie skaars gaan raak en op baie plekke sal daar aardbewings wees.

8. Hierdie dinge sal oor en oor gebeur. Dit is egter niks in vergelyking met wat gaan kom nie. Hierdie dinge moet julle maar net waarsku om gereed te wees vir wat voorlê. Julle gaan baie swaarkry net omdat julle Christene is.

9. Die ongelowiges gaan julle haat met ’n vurige haat. Hulle gaan lekkerkry om te sien hoe julle ter wille van My gemartel en selfs doodgemaak word.

10. Dit sal ook al hoe meer uit die mode raak om kerk toe te gaan en ’n Christen te wees. Wat egter hoog in die mode sal wees, is om mekaar om elke hoek en draai te bedrieg en niks vir mekaar oor te hê nie.

11. Daar sal ook baie mense kom wat hoog en laag sal sweer dat hulle boodskappers van God is. Hulle is natuurlik skaamtelose bedrieërs. Die ergste is dat daar mense sal wees wat hulle gaan glo.

12. “Liefde gaan baie skaars word, want mense sal hulle nie meer steur aan wat God wil hê nie. Julle moet egter nooit God se hand los nie, nooit nie!

13. “So kan julle seker wees dat julle vir ewig saam met Hom sal leef; daarvoor sal Hy self sorg. Een ding is egter seker. Al hierdie haat en vyandskap sal die boodskap van God in hierdie wêreld nie kan stilmaak nie.

Lees volledige hoofstuk Matteus 24