Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 23:16-25 Die Boodskap (DB)

16. “Ja-nee, julle is in die moeilikheid by God. Julle vertel vir almal dat julle net die mense is om hulle geestelik op die regte pad te lei.

17. Tog is julle so blind soos molle. Kyk net wat doen julle: julle sê vir mense dat as hulle iets beloof met hulle vingers gekruis, hulle nie hulle belofte hoef na te kom nie.

18. Maar beloof hulle iets met hulle hand op die Bybel, moet hulle dit ernstig bedoel.

19. Wat ’n klomp onsin! Is daar nou skielik baie meer krag in die buiteblad van die Bybel as in julle gekruiste vingers?

20. “Julle sê ook: ‘As iemand plegtig belowe dat hy iets sal doen, hoef hy nie sy woord te hou nie. As hy egter dieselfde ding beloof, maar dit op ’n stuk papier ook skryf, mag hy nie sy woord breek nie.’ Kry julle nie skaam nie? Wat dink julle is die belangrikste: Julle woorde of die stuk papier?

21-22. Antwoord vir My net dié vraag: Hoe kan gekruiste vingers, ’n stuk papier of die buiteblad van die Bybel nou ’n belofte maak of breek? ’n Belofte is mos ’n belofte! God steur Hom nie aan al hierdie dinge soos vingers of papier nie; vir Hom is ’n belofte ’n belofte wat nie gebreek mag word nie. Dit maak nie saak hoe die belofte gemaak is nie.

23. “Ek waarsku julle, Fariseërs en Joodse teoloë. Julle is pynlik presies oor hoe julle kerk hou en julle werk julle tiendes tot op die laaste sent uit. Maar as dinge gedoen moet word wat regtig vir God saak maak, skitter julle in julle afwesigheid. Ek praat van dinge soos om vir almal ’n regverdige kans te gee; of dat julle so vir mense omgee dat julle hulle graag wil help; of dat mense weet dat hulle julle kan vertrou. Ek sê nou nie die ander dinge wat julle doen, is noodwendig verkeerd nie. Maar dit is niks werd as julle nie ook die dinge doen wat regtig vir God saak maak nie.

24. “Maar nou het julle van die godsdiens iets gemaak wat dit nie is nie. Julle het alles deurmekaargekrap. Wat belangrik is, het julle onbelangrik gemaak, en wat onbelangrik is, het julle belangrik gemaak. Julle is regtig soos mense wat vreeslik oor ’n sent baklei, maar julle nie aan 100 rand steur nie.

25. “Sowaar, julle is soos iemand wat die buitekant van ’n skottel silwerskoon maak, maar dit binne-in net so vuil los. Dit is vir julle baie belangrik hoe mense van buite lyk. Hoe hulle egter van binne lyk, pla julle glad nie. Hulle kan selfs maar vol haat en allerhande ander lelike dinge wees, dit maak nie saak nie.

Lees volledige hoofstuk Matteus 23