Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 20:1-19 Die Boodskap (DB)

1. Daarna vertel Jesus vir hulle ’n verhaal: “Weet julle, in God se nuwe wêreld gaan dit soos met ’n boer wat vroeg een oggend by die markplein ’n paar werklose mense gaan huur het om daardie dag vir hom op sy plaas te kom werk.

2. Hy kom toe met hulle ooreen om hulle 100 rand vir die dag se werk te betaal.

3. “So teen nege-uur die oggend het die boer weer ’n draai daar by die markplein gemaak. Hy sien toe nog ’n paar werkloses daar rondstaan.

4. Dadelik het hy hulle ook gehuur om op sy plaas te kom werk. ‘Ek betaal julle 100 rand vir die dag,’ het hy vir hulle gesê.

5. “Teen twaalfuur en ook teen drie-uur was die boer weer by die markplein. Elke keer het hy nog werkers gehuur wat daar rondgestaan het.

6. Laatmiddag, so teen vyfuur se kant, het hy vir oulaas by die mark ’n draai gemaak. Hy tref toe weer ’n klompie werkloses daar aan en vra vir hulle: ‘Vir wat staan julle die hele dag hier rond sonder om iets te doen?’

7. “‘Wel, niemand het vir ons werk nie,’ antwoord hulle. “‘Kom werk dan daar by my in my wingerd op die plaas,’ sê die boer toe.

8. “’n Rukkie later, toe dit begin donker word, sê die boer vir sy voorman: ‘Kry gou al die werkers bymekaar en betaal hulle. Begin by diegene wat ek laaste in diens geneem het en eindig by dié wat van vroeg af werk.’

9. “Die werkers wat eers teen vyfuur begin werk het, het toe elkeen 100 rand gekry, die geld wat die boer vir ’n volle dag se werk betaal.

10. Die ander wat heel eerste begin werk het, het toe by hulleself gedink dat hulle meer as dit betaal sou word. Maar hulle het ook presies dieselfde bedrag gekry: 100 rand.

11. Hulle was baie kwaad daaroor. Hulle het hardop begin protesteer en vir die boer gaan sê:

12. ‘Kyk, hierdie laaste spul werkers het net ’n uur lank gewerk. En nou word hulle dieselfde as ons betaal. Dis mos nie regverdig nie. Ons moes ’n hele dag in die warm son sweet, nie hulle nie!’

13. “Die boer sê toe vir die werkers se segsman: ‘My vriend, ek was glad nie onbillik teenoor julle nie. Ek het mos met julle ooreengekom om julle 100 rand te betaal, nie waar nie?

14. Vat julle geld en gaan huis toe. Ek het besluit dat ek vir die arbeiders wat laaste kom werk het dieselfde as vir julle wil betaal.

15. Dit is mos my geld. Ek kan daarmee maak wat ek wil. Hoekom is julle dan kwaad vir my omdat ek daarmee goeddoen?’”

16. In God se wêreld keer die rolle heeltemal om. Daar sal mense wat nou onbelangrik is, die heel belangrikste wees, terwyl almal wat nou belangrik is, glad nie sal tel nie.

17. Op pad na Jerusalem het Jesus sy dissipels op ’n dag eenkant toe geroep. Hy sê toe vir hulle:

18. “Soos julle weet, gaan ons nou Jerusalem toe. Daar gaan iets verskrikliks met My gebeur. Die godsdienstige leiers gaan My vang en My ter dood veroordeel.

19. Dan sal hulle My oorgee aan die Romeine. Hierdie spul sal My daar voor almal spot en beledig en My slaan. Uiteindelik sal hulle My kruisig. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 20