Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 15:7-22 Die Boodskap (DB)

7. Julle is ’n klomp skynheiliges. Jesaja was reg toe hy oor julle geskryf het:

8. ‘Hierdie mense sê al die regte dinge vir God, maar hulle dien Hom nie met hulle hart nie.

9. Hulle gebruik mooi godsdienstige woorde terwyl hulle skewe leerstellings kwytraak.’”

10. Daarna het Jesus die skare nader geroep en vir hulle gesê: “Luister nou goed na wat Ek sê:

11. niks wat julle eet, maak julle onrein in God se oë nie. Nee, dit wat van binne af oor julle lippe kom, maak julle lewe onrein. As julle hart vol boosheid is, sal julle woorde dit wys.”

12. ’n Rukkie later kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Weet U hoe kwaad die Fariseërs vir U was oor wat U vir hulle gesê het?”

13. Jesus antwoord toe: “My hemelse Vader sal elkeen wat nie in Hom glo nie in die hel gooi.

14. Julle moet julle dus nie aan hierdie mense steur nie. Hulle is soos blindes wat ander blindes probeer lei. Julle kan net dink wat met sulke mense gebeur: kort voor lank beland hulle almal in ’n sloot.”

15. Petrus sê toe vir Jesus: “Ek verstaan nie mooi wat U sê nie. Verduidelik asseblief vir ons wat U bedoel.”

16. Jesus antwoord: “Hoe is dit moontlik? Het julle regtig so min begrip vir wat Ek sê?

17. Verstaan julle nie dat alle kos wat ’n mens eet, in jou maag beland en later uit jou liggaam uitgeskei word nie?

18. Maar dit wat jy sê, kom uit jou hart.

19. Dáár ontstaan slegte gedagtes, soos om moord te pleeg, om ontrou aan jou huweliksmaat te wees, om onsedelike dade te pleeg, om te steel en te lieg en lelike dinge teen God te sê.

20. Wanneer jy hierdie dinge uitdink, maak dit jou onrein. Dan is God nie met jou lewe tevrede nie. Dit gaan vir Hom glad nie daaroor of jy jou hande voor ete was of nie. Sulke dinge kan ’n mens nie onrein maak nie.”

21. Hierna het Jesus na die gebied van Tirus en Sidon vertrek.

22. ’n Vrou wat daar gebly het, maar wat nie ’n Israeliet was nie, het na Hom toe gekom en hardop uitgeroep: “Here, Seun van Dawid, help my tog! My kind is in die mag van ’n bose gees.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 15