Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 15:3-16 Die Boodskap (DB)

3. Jesus het dadelik gereageer: “En hoekom doen julle nie wat God van julle vra nie? Julle leef ver van Hom af met julle godsdienstige tradisies en al!

4. “Kom Ek gee julle ’n voorbeeld,” het Hy bygevoeg. “Julle weet mos dat God in die Bybel sê: ‘Jy moet jou pa en ma respekteer.’ Hy sê ook: ‘Iemand wat lelike dinge oor sy pa of ma sê, moet doodgemaak word.’

5. Maar julle wikkel julle maklik uit hierdie voorskrif uit deur te sê: ek het al my geld aan die tempel bemaak. Net ek mag nou daarvan gebruik; niemand anders nie.

6. Daarom kan ek nie langer vir my pa en ma sorg nie.“Weet julle, as julle julle so gou van julle verpligting teenoor julle ouers losmaak, het julle geen respek vir hulle nie. Dan stel julle julle eie godsdienstige tradisies bo God se Woord. Daardeur beroof julle God se Woord van sy krag.

7. Julle is ’n klomp skynheiliges. Jesaja was reg toe hy oor julle geskryf het:

8. ‘Hierdie mense sê al die regte dinge vir God, maar hulle dien Hom nie met hulle hart nie.

9. Hulle gebruik mooi godsdienstige woorde terwyl hulle skewe leerstellings kwytraak.’”

10. Daarna het Jesus die skare nader geroep en vir hulle gesê: “Luister nou goed na wat Ek sê:

11. niks wat julle eet, maak julle onrein in God se oë nie. Nee, dit wat van binne af oor julle lippe kom, maak julle lewe onrein. As julle hart vol boosheid is, sal julle woorde dit wys.”

12. ’n Rukkie later kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Weet U hoe kwaad die Fariseërs vir U was oor wat U vir hulle gesê het?”

13. Jesus antwoord toe: “My hemelse Vader sal elkeen wat nie in Hom glo nie in die hel gooi.

14. Julle moet julle dus nie aan hierdie mense steur nie. Hulle is soos blindes wat ander blindes probeer lei. Julle kan net dink wat met sulke mense gebeur: kort voor lank beland hulle almal in ’n sloot.”

15. Petrus sê toe vir Jesus: “Ek verstaan nie mooi wat U sê nie. Verduidelik asseblief vir ons wat U bedoel.”

16. Jesus antwoord: “Hoe is dit moontlik? Het julle regtig so min begrip vir wat Ek sê?

Lees volledige hoofstuk Matteus 15