Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 14:16-33 Die Boodskap (DB)

16. “Dit is nie nodig dat hulle nou al huis toe gaan nie. Gee julle sommer vir hulle iets om te eet,” het Jesus geantwoord.

17. “Ons het net vyf brode en twee visse hier by ons,” het hulle verbaas gereageer.

18. Jesus sê toe: “Bring dit hier.”

19. Hy het die skare op die gras laat sit. Toe vat Hy die visse en die brood, kyk op na die hemel en sê vir God daarvoor dankie. Hy begin toe die brood in stukke breek en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer aan die mense uitgedeel het. Jesus het aangehou om dit te doen totdat almal genoeg gekry het om te eet.

20. Na die ete het die dissipels twaalf mandjies vol oorskietkos opgetel.

21. Net die mans alleen was sowat 5 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was.

22. Na die ete het Jesus vir sy dissipels gesê om solank in die skuit te klim en na die oorkant van die See van Galilea te vaar. Hy het die skare ook na hulle huise toe teruggestuur.

23. Toe almal weg is, het Jesus alleen teen die berg opgeklim om te gaan bid. Daar het Hy tot laat in die nag gebly.

24. Intussen was die dissipels reeds ver uit op die see toe daar ’n storm opsteek. Groot golwe en ’n sterk wind van voor het dit vir hulle baie moeilik gemaak om te roei.

25. Kort voor dagbreek die volgende môre het Jesus besluit om na sy dissipels toe te gaan. Hy het sommer op die water na hulle toe gestap.

26. Toe die dissipels Hom sien, het hulle hulle morsdood geskrik. “’n Spook, ’n spook!” het hulle benoud uitgeroep.

27. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel: “Bedaar. Dit is Ek! Moenie bang wees nie.”

28. Petrus roep toe: “Here, as dit regtig U is, sê dan vir my om op die water na U toe te stap.”“Waarvoor wag jy?

29. Kom!” het Jesus geantwoord.Petrus het dadelik uitgeklim en op die water na Hom toe begin stap.

30. Maar toe hy sien hoe sterk die wind is, het sy moed hom begeef. Hy het begin sink. Hy roep toe benoud: “Here, red my!”

31. Jesus het sy hand vinnig uitgesteek en hom uit die water opgetrek. “Hoekom is jou geloof so klein? Hoekom hou jy nie aan glo nie?” het Hy verwytend vir Petrus gevra.

32. Hulle het daarna in die skuit geklim en die wind het skielik bedaar.

33. Die dissipels wat in die boot was, het in eerbied voor Jesus neergeval. Hulle het Hom aanbid en gesê: “U is regtig die Seun van God!”

Lees volledige hoofstuk Matteus 14