Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 13:38-51 Die Boodskap (DB)

38. Die land waarin Hy saai, kan vergelyk word met die wêreld. Die goeie saad is die mense in die wêreld wat God dien. Die onkruid is die mense wat die Bose dien.

39. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel self. Die oestyd verwys na die tyd wanneer God die mense finaal kom oordeel. Die mense wat die oes insamel, is die engele van God. “Nou het ons die sleutel om die verhaal te verstaan. Kom ons sit nou alles bymekaar.

40. Ons het gesien dat die onkruid ná die oes eenkant gegooi en verbrand word. Wanneer God mense finaal kom oordeel, gaan hierdie wêreld net so aan ’n einde kom.

41. Die Seun gaan sy engele stuur om te kom oes. Hulle gaan eers al die mense bymekaarmaak wat ander so op die verkeerde pad lei en nie doen wat God wil nie.

42. Vir hierdie mense is daar dan geen uitkoms meer nie, net die vlamme van die hel. Daar sal hulle van pyn krul en om hulp skreeu, maar alles tevergeefs.

43. Die mense wat reg geleef het, sal dan die nuwe wêreld van hulle Vader skitterend versier.“Neem hierdie dinge ernstig op.“Luister mooi na wat Ek sê.”

44. “Luister ook hierna. Om God as jou Here te hê is so spesiaal dat dit vergelyk kan word met ’n skat. Die skat het in die veld gelê. Toevallig ontdek iemand dit toe eendag, maar hy kon dit nie vat nie omdat dit nie sy grond was nie. Hy maak die skat toe weer mooi toe. Hy was so opgewonde daaroor dat hy al sy besittings gaan verkoop het. Met die geld het hy toe daardie stuk grond gaan koop.

45. “Die vergelykings met ’n juwelier en ’n visnet kan julle ook help om te verstaan wat God se nuwe wêreld vir mense kan beteken.

46. “’n Juwelier het die wêreld vol gereis op soek na goeie pêrels. Skielik loop hy ’n uitsonderlike en baie waardevolle pêrel raak. Hy wou dit vreeslik graag hê. Daarom gaan verkoop hy toe alles wat hy het en koop die pêrel.

47. “Julle weet mos dat allerhande soorte vis gewoonlik met nette in die meer gevang word.

48. As die net vol vis is, sleep hulle dit wal toe. Dan soek hulle eers die vis uit. Die eetbare vis hou hulle, en hulle raak ontslae van die vis wat hulle nie wil hê nie.

49. “By die laaste oordeel sal dit ook so gaan met die mense. Die mense wat reg gelewe het, sal by God gaan staan.

50. “Maar die hel is die voorland van hierdie klomp slegte mense wat niks vir God omgegee het nie. Daar sal hulle skreeu en kerm van pyn, maar alles tevergeefs.

51. “Begin julle nou verstaan wat Ek vir julle wil sê?” Die dissipels antwoord: “Beslis!”

Lees volledige hoofstuk Matteus 13