Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 13:24-32 Die Boodskap (DB)

24. “Maar Ek het nog ’n verhaal vir julle. Vergelyk nou hierdie verhaal met ’n geestelike waarheid oor hoe God in die wêreld regeer. “Daar was ’n boer. Hy het skoon saad, sonder enige onkruid tussenin, in sy land gesaai.

25. Daardie nag, terwyl almal slaap, kom sy vyand skelm en saai ’n klomp onkruid tussen sy koring. Hierdie onkruid het baie soos koring gelyk, maar toe die oes kom, was daar nie ’n enkele koringaar aan die plante nie. Die koring en die onkruid het natuurlik lustig saamgegroei.

26. Toe die koringare begin vorm, kom die plaaswerkers die probleem agter.

27. Hulle is toe reguit na die boer toe. ‘Meneer, jy het dan sulke mooi skoon saad gesaai. Hoe is dit moontlik dat die land so vol onkruid staan?’

28. Die boer sê toe: ‘Wie anders as die vyand sal so iets doen?’“‘Moet ons die lande gaan skoonmaak?’ wou die werkers weet.

29. ‘Nee,’ sê die boer, ‘netnou trek julle van die koring saam met die onkruid uit.

30. Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’”

31. Jesus het voortgegaan met nog ’n verhaal: “God se nuwe wêreld kan met ’n baie klein saadjie, ’n mosterdsaadjie, vergelyk word. Iemand vat daardie klein saadjie en plant dit buite.

32. Uit hierdie piepklein saadjie groei so ’n groot struik dat dit bo al die ander plante in die tuin uitstaan. Om die waarheid te sê, dit is so groot dat voëls selfs daarin nes kan maak.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 13