Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 12:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Een sabbat stap Jesus en sy dissipels op ’n voetpaadjie deur ’n koringland. Sy dissipels begin toe honger voel en pluk koringare af en begin daaraan peusel.

2. Die Fariseërs het hulle natuurlik soos valke dopgehou en was dadelik by: “Wat gaan hier aan? Kyk net hoe breek jou dissipels ons godsdienstige reëls. Julle weet mos ’n mens mag nie kos op die sabbat bymekaarmaak nie!”

3. Rustig antwoord Jesus hulle: “Het julle nog nie in julle Bybel gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie?

4. Het julle al vergeet hoe hulle die reëls oortree en sommer die brood geëet het wat spesiaal vir God eenkant gesit is? Net God se priesters is mos toegelaat om dit te eet.

5. “Nog ’n vraag: Het julle ook nog nie in die Bybel gelees dat priesters op die sabbat in die tempel moet werk nie? Wat beteken dit? Ja, natuurlik, hulle is verplig om op die sabbat te werk. Maak dit nou sondaars van hulle? Tog sekerlik nie! En wat leer dit ons? Daar kom situasies waarin skynbaar belangrike wette ter wille van nog belangriker sake verslap kan word. “Maar hoe moet ons nou weet wanneer die een saak ‘belangriker’ as die ander is? Laat Ek vir julle sê.

6. Hier voor julle staan Iemand wat belangriker is as alle godsdienstige reëls. As julle moet kies tussen gehoorsaamheid aan Hom en allerhande godsdienstige wette, kies Hom. Maar nou gaan julle hier tekere oor mense wat niks verkeerds doen nie, alles net omdat julle godsdienstige reëls dien en nie vir God nie.

7. Julle verstaan God nou nog nie as Hy sê: Ek soek mense wat regtig vir ander omgee. Daarin stel Ek belang en nie in allerhande godsdienstige gewoontes nie.

8. “Ek sê vir julle, die sabbat kan My nie soos ’n polisieman voorskryf wat Ek moet doen en wat nie. Ek is belangriker as die sabbat. Daarom kan Ek eerder sê wat op die sabbat gedoen mag word sodat die sabbat regtig sabbat kan wees.”

9. Jesus is van daar af na die bymekaarkomplek van die Jode.

10. In die sinagoge was daar ’n gebreklike man wie se hand heeltemal inmekaargetrek was. Die Jode het geweet dat Jesus graag sulke mense help en het hier ’n kans gesien om Hom in die moeilikheid te bring. As Hy hierdie man op die sabbat sou help, sou hulle Hom mos daarvan kon aankla dat Hy God se wet breek. Om Hom uit te lok vra hulle toe: “Sou jy sê dat ’n mens op die sabbat so ’n persoon gesond mag maak?”

Lees volledige hoofstuk Matteus 12