Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 10:22-34 Die Boodskap (DB)

22. “Julle wil seker weet waarom dit alles met julle moet gebeur. Wel, die antwoord is eenvoudig: omdat julle my vriende is.

23. “Julle sal deur al hierdie mense gehaat word net omdat julle my kant gekies het. Maar moenie dat dit julle moedeloos maak nie. Julle het iets baie groters om na uit te sien. Die een wat deur al hierdie swaarkry heen steeds vas agter My bly staan, se plek is by God in sy nuwe wêreld bespreek. “Die kaptein van ’n span wen of verloor nie alleen nie; sy span wen of verloor saam met hom. Die kaptein se lot is almal se lot. Aanvaar daarom julle lot saam met My.

24. Moenie ongelukkig wees as dieselfde dinge met julle gebeur wat met My ook gebeur nie.

25. As hierdie mense die kaptein van die span vir ’n ‘duiwelskind’ uitskel, wat dink julle sal hulle die res van die span noem? “Al die probleme mag julle dus nie moed laat verloor nie. Die wêreld lê voor julle oop as sendingveld. As mense julle uit die een dorp wegjaag, is daar tien ander om na toe te gaan. Sowaar, daar is so baie werk dat julle nie eens behoorlik met die dorpe in Israel klaar sal kry voor die wederkoms nie. Julle kan nie net op een plek bly nie.

26. “Moenie toelaat dat mense julle op allerhande maniere probeer bangmaak nie. Leuens kan nie die waarheid in ’n bottel toeskroef en dit weggooi nie. Die waarheid sal uitkom vir almal om te hoor.

27. “Wat Ek vir julle gesê het toe ons alleen was, moet julle vir almal gaan vertel. Ons het oor baie dinge hier onder ons gepraat. Dit moet nie net hier tussen ons bly nie. Die hele wêreld moet dit hoor.

28. “Sê My, vir wie dink julle moet ’n mens uit eerbied die bangste wees, vir mense of vir God? Onthou altyd, mense kan miskien jou liggaam doodmaak, maar hulle kan niks aan jou siel doen nie. God kan jou liggaam en jou siel in die hel gooi. Dit is nou regtig iets om voor bang te wees!

29. “Wat dink julle sal iemand vir ’n mossie wil betaal? ’n Paar sent miskien, of hoe? Al is hulle vir ons so min werd, gee God tog baie vir hulle om. Kyk net hoe sorg Hy vir hulle. Nou nog ’n vraag: Wat dink julle, vir wie gee God die meeste om, vir mossies of vir julle? Ek hoef eintlik nie eens hierop te antwoord nie:

30. God gee natuurlik duisend maal meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik.

31. Nou ja, as julle dit weet, hoef julle mos nie meer bang te wees vir wat mense aan julle kan doen nie.“Wees dus getroos, maar ook gewaarsku.

32. “Julle kan getroos wees as julle in die vyandige wêreld my boodskap bly verkondig, al gebeur wat ook al. Dan sal Ek baie goeie getuigskrifte oor julle vir my hemelse Vader gee.

33. “Wees ook gewaarsku dat iemand wat nie oor My wil praat as die gevaar nader kom nie, nie moet verwag dat Ek allerhande mooi dinge oor hom vir die hemelse Vader sal vertel nie.”

34. “Dit is nie altyd lekker en maklik om ’n Christen te wees nie. Daarom moet jy goed weet wat vir jou die belangrikste is.“Ek het nie gekom om almal net te paai of tevrede te hou nie.

Lees volledige hoofstuk Matteus 10