Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 8:3-18-19 Die Boodskap (DB)

3. As Ek hulle nou op ’n leë maag huis toe stuur, is Ek seker gaan party van hulle dit nie maak nie, want hulle bly baie ver.”

4. Sy volgelinge sê toe: “Waar op aarde gaan ons hier in die grammadoelas kos kry vir so baie mense?”

5. “Hoeveel kos het ons?” vra Jesus.“Ons het sewe brode,” kom die antwoord.

6. Jesus vra die mense toe om almal op die grond te gaan sit. Hy het vir God dankie gesê vir die kos en die brood begin deel. Die dissipels het die stukke brood vir die mense uitgedeel.

7. Daar was ’n paar klein vissies ook. Ook daarvoor het Jesus vir God dankie gesê en dit onder die mense uitgedeel.

8. Die mense het geëet tot hulle genoeg gehad het. Na die tyd het die dissipels die kos wat oorgebly het, bymekaargemaak - dit was sewe houers vol.

9. Daar was altesaam omtrent 4 000 mense. Toe hulle klaar geëet het, het Jesus die mense gevra om huis toe te gaan.

10. Hy en sy getrouste volgelinge is met die skuit na die gebied van Dalmanuta toe.

11. Daar kom Jesus toe ’n klompie godsdienstige Jode teë wat hulleself Fariseërs noem. Hulle wou met Hom kom stry. Om te kyk of Hy nie dalk iets verkeerds sal doen of sê nie, vra hulle Hom toe om vir hulle iets te doen as bewys dat God aan sy kant is.

12. Met ’n swaar sug sê Jesus toe: “Waarom soek hierdie mense net heeltyd na iemand wat buitengewone dinge kan doen? Laat Ek nou vir julle sê: so ’n bewys gaan Ek nie vir julle gee nie.”

13. Jesus het die stryerige Jode daar gelos, in die skuit geklim en na die ander kant van die See van Galilea gevaar.

14. Sy volgelinge het vergeet om genoeg brood in te pak. Hulle het net een by hulle gehad.

15. Jesus sluit toe daarby aan met ’n voorbeeld: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die godsdienstige Jode wat hulleself die Fariseërs noem en ook vir die suurdeeg van Herodes.”

16. Die dissipels wonder toe onder mekaar waarom Jesus nou juis dit sê. “Dit is seker omdat ons nie genoeg brood saamgebring het nie,” dink hulle toe.

17. Jesus kom toe agter wat hulle besig was om te bespreek. “Julle misgis julle heeltemal,” sê Hy. “Waarom praat julle oor die brood wat julle vergeet het? Is julle so dom dat julle nie kan verstaan wat Ek bedoel nie? Of wil julle dalk nie verstaan nie?

18-19. Julle het oë, maar sien niks nie en het ore, maar gaan soos dowes deur die lewe. Kan julle dan nie onthou hoe baie kos oorgebly het toe Ek met vyf brode vir die 5 000 mense kos gegee het nie?”“Twaalf houers vol,” antwoord hulle vinnig.

Lees volledige hoofstuk Markus 8