Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 5:1-15 Die Boodskap (DB)

1. So het hulle by die oorkant van die see aangekom. Die Geraseners het in daardie gebied gebly.

2-3. Jesus het skaars uit die skuit geklim of ’n man met ’n demoon peil reg op Hom af. Hy het uit die begraafplaas aangestorm gekom, want dit is waar hy gebly het. Hy was woes en onbeheerbaar en die mense kon hom nie eens meer met kettings vasbind nie.

4. Hulle het probeer om sy hande en voete met kettings te boei, maar dit het niks gehelp nie. Hy het dit uitmekaargeruk.

5. Die bloedstollende gille van die man het dag en nag oor die grafte en tussen die heuwels weerklink terwyl hy homself met skerp klippe stukkend kap.

6. Hy het Jesus van ver af sien aankom en dadelik na Hom toe gehardloop. Hy het op sy knieë voor Jesus neergesak.

7. So hard as wat hy kon, het hy geskree: “Seun van die grote God, wat kom soek U hier? Ek smeek U, moet my nie pynig nie.” Jesus sê toe vir die bose gees:

8. “Gee pad uit hierdie man uit, jou slegte gees.

9. Maar sê eers vir My jou naam.”“My naam is Legio, want ons is baie,” kom die antwoord.

10. Die slegte gees het Jesus gesmeek en gesoebat om hulle nie uit daardie area te verwilder nie.

11. ’n Entjie daarvandaan teen die skuinste was daar ’n trop varke.

12. Die demone smeek Jesus toe: “Asseblief, ons vra mooi, as U ons uit die man jaag, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.”

13. Skaars het Jesus hulle toegelaat of hulle is uit die man in die varke in. Die varke het heeltemal mal geword. Hulle het verwilderd op loop gegaan, teen die skuinste af, die see in. Daar was omtrent 2 000 en die laaste een van hulle het versuip.

14. Die varkoppassers is toe in ’n stofstreep daar weg om vir almal in die dorp en omgewing te gaan vertel wat gebeur het. Van oral af het die mense gestroom om te kom kyk.

15. Daar aangekom, sien hulle die woeste man rustig by Jesus sit. Hy was netjies aangetrek en het normaal opgetree, soos enigeen van hulle. Dit het hulle bang en onseker gemaak.

Lees volledige hoofstuk Markus 5