Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 3:4-21 Die Boodskap (DB)

4. Toe draai Jesus na die moeilikheidmakers toe: “Wat dink julle mag ’n mens op die sabbat doen? Moet jy goeddoen, of kwaad? Moet jy iemand se lewe red, of hom doodmaak?” Hulle het niks gesê nie.

5. Jesus het verontwaardig na hulle gekyk. Hy was veral omgekrap omdat hulle nie hulle fout wou insien en erken dat hulle verkeerd was nie. Hy sê toe vir die siek man: “Steek uit jou hand.” Hy doen dit toe, en daar was sy hand heeltemal gesond.

6. Die godsdienstige Jode wat aan die party van die Fariseërs behoort het, is toe daar uit en het saam met die mense wat Herodes ondersteun het, begin planne maak om Jesus dood te maak.

7-8. Jesus is weer met sy volgelinge see toe. ’n Groot groep mense uit Galilea is saam met hulle. Maar die nuus oor alles wat Jesus gedoen het, het ver oor die grense van Galilea versprei. Uit alle rigtings soos Judea en Jerusalem, selfs van Idumea, Tirus en Sidon en van die oorkant van die Jordaan af het die mense gekom.

9. Jesus vra toe sy dissipels om ’n klein bootjie reg te hou sodat Hy daarin kon klim as die mense te veel om Hom saamdrom.

10. Jesus het baie mense gesond gemaak en daarom het almal wat siek was vorentoe gebeur om net aan Hom te kon raak.

11. Elke keer as iemand met ’n bose gees Hom gesien het, het hy op die grond voor Hom neergeval en uitgegil: “Jy is die Seun van God.”

12. Maar Hy het hulle ernstig verbied om te sê wie Hy is.

13. Later het Jesus berge se kant toe gegaan. Hy het ’n paar van sy volgelinge gekies en hulle het nader gestaan.

14-15. Hy stel toe twaalf manne aan om by Hom te bly, om te stuur om die boodskap vir ander te gaan vertel en om duiwelse geeste uit mense te dryf. Hy het hulle apostels genoem.

16. Die twaalf se name was: Simon (Jesus het hom Petrus genoem),

17. Jakobus en Johannes, die twee seuns van Sebedeus (Jesus het hulle twee die naam Boanerges gegee, wat beteken: manne van die donder),

18. Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (Alfeus se seun), Taddeus, Simon die Kananeër

19. en Judas Iskariot, wat Jesus uiteindelik sou verraai.

20. Jesus is toe weer huis toe. Die mense het so om Hom saamgedrom dat Hy en sy dissipels nie eens ’n kans gekry het om te eet nie. Jesus het die wonderlikste dinge gedoen wat geen gewone mens kon doen nie.

21. Toe sy familie daarvan hoor, het hulle inderhaas na Jesus toe gekom om Hom te kom haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.”

Lees volledige hoofstuk Markus 3