Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12:3-12 Die Boodskap (DB)

3. Toe die werker daar aankom, gryp die huurders hom, gee hom ’n paar taai klappe en stuur hom sonder ’n enkele druiwekorrel daar weg.

4. Weer probeer die eienaar - hy stuur nog ’n werker. Met hom het dit nog slegter gegaan as met die vorige een. Die huurders het hom oor die kop geslaan en liederlik beledig.

5. Nog ’n keer het die eienaar probeer, en nog ’n keer, en nog ’n keer. Maar die huurders wou niks weet nie. Hulle het van die werkers vir wie die eienaar gestuur het, aangerand en ander het hulle selfs doodgemaak.

6. “Uiteindelik was daar nog net een oor wat hy kon stuur en dit was sy eie seun. Hy het sy seun baie liefgehad en het eers mooi daaroor gedink. ‘Hulle sal my seun darem sekerlik met groter respek behandel,’ het hy geredeneer.

7. “Toe die seun daar opdaag, sê die huurders vir mekaar: ‘Daar kom die een aan wat hierdie grond eendag gaan erf.

8. As ons hom doodmaak, sal daar niemand wees wat die grond kan erf nie en dan sal ons dit maklik in die hande kan kry.’ Hulle doen dit toe. Sy lyk het hulle sommer daar buite die wingerd gegooi.

9. “Wat dink julle het die eienaar van die wingerd toe gedoen? Ja, hy het self gekom en al daardie huurders laat doodmaak. Die wingerd het hy toe vir ander gegee.

10. Het julle nog nooit die stukkie in die Skrif gelees nie waar daar staan: ‘’n Klip wat die bouers nie eens wou gebruik nie en eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien.

11. Die Here self het dit gedoen, en hoe wonderlik is dit nie vir ons om te sien nie’?”

12. Die Joodse godsdienstige leiers het toe eers planne gemaak om Jesus in die tronk te stop, want hulle het goed geweet dat die verhaal wat Jesus vertel het teen hulle gemik was. Hulle was egter versigtig vir die gewone mense. Daarom het hulle Jesus vir eers gelos en weggegaan.

Lees volledige hoofstuk Markus 12