Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 10:27-38 Die Boodskap (DB)

27. Jesus kyk toe vir hulle en sê: “Dit lyk miskien vir mense onmoontlik, maar God kan alles doen. Niks is vir Hom onmoontlik nie.”

28. Petrus begin toe noem wat hy gedoen het: “Wel, ons was darem gewillig om alles te laat staan en agter U aan te kom.”

29. “Luister nou mooi wat Ek sê,” sê Jesus. “Daar is niemand wat iets vir My en my boodskap prysgegee het wat nie honderd maal soveel sal terugkry nie. Dit maak nie saak of dit sy huis, broers of susters, sy ma of pa of kinders of sy grond is nie.

30. As Christen kry hy nou by al sy mede-Christene huise en broers en susters en ma’s en kinders en grond. Maar Christenskap is nie net lekker nie. ’n Mens sal soms ook swaarkry omdat jy ’n Christen is. Maar wanneer God weer kom, sal so ’n persoon die ewige lewe ook kry.

31. Baie mense wat nou vreeslik in tel is en hulle baie belangrik hou, sal dan niks wees nie en wie nou niks is nie, sal dan die belangrikste plekke inneem.”

32. Jesus-hulle was op pad Jerusalem toe. Jesus het voor geloop terwyl sy volgelinge agternagekom het. Sy getrouste volgelinge was omgekrap en ontsteld terwyl ander bang begin voel het. Weer ’n keer vat Hy sy getrouste volgelinge eenkant toe en vertel vir hulle mooi wat met Hom gaan gebeur.

33. “Ons is op pad Jerusalem toe,” sê Jesus. “Daar sal Ek, die Seun van die mens, op ’n verraderlike manier in die kloue van die leiers van die Jode en die Joodse geleerdes val. Hulle sal besluit dat Ek uit die weg geruim moet word. Hulle sal My dood wil sien en daarom sal hulle My aan die Romeine oorgee.

34. Hulle sal My sonder genade behandel - hulle sal op My spoeg, met My spot, My met swepe slaan en uiteindelik doodmaak. Maar drie dae later sal Ek uit die dood lewendig word.”

35. Sebedeus se twee seuns, Jakobus en Johannes, kom vra Hom toe: “Meneer, ons wil U asseblief ’n groot guns vra.”

36. “Vra maar, laat Ek hoor,” sê Jesus.

37. “As U eendag groot en belangrik as heerser op u troon sit, kan ons asseblief aan weerskante van U sit?” vra hulle vir Jesus.

38. “Julle weet nie wat julle vra nie,” kom Jesus se antwoord. “Die pad wat vir My voorlê, is bitter swaar. Dit is soos ’n beker vol smart en seerkry wat Ek moet drink. Ek dink nie julle sal dit saam met My kan drink nie. Soos iemand wat in water gedoop word, moet Ek in lyding gedoop word. Sal julle dit kan uithou? Ek glo nie.”

Lees volledige hoofstuk Markus 10